Klipkouers Potgooi: Jakes Maritz se Britse onderneming, Expat Explore, reël gemiddeld 13,000 Europese toere per jaar.

Expat Explore is ‘n onderneming in Europa wat gemiddeld 13, 000 toere per jaar reël. Jakes Maritz, is die dryfkrag agter dié onderneming. Hy gesels met Klipkouers oor onder andere hoe om ander mense aan te stel en hoe jy foute moet hanteer.

Die Klipkouer met wie ons vandag gesels is Jakes Maritz mede-stigter van Expat Explore. Hulle word geklassifiseer as ’n “budget” toer operateur en hulle reël gemiddeld 13,000 toere in Europa en Rusland, onder andere, elke jaar. Ons sien uit om baie meer van dié Klipkouer en sy manier van dink en doen te hoor.

Jakes Maritz

Jakes, welkom by Klipkouers. Vertel ons ’n bietjie meer van jouself.

Baie dankie. Bly om hier te wees. Op die oomblik bly ek in Kaapstad nadat ek ongeveer 11 jaar in Londen, Engeland gewoon het. Dit het my goed voorberei vir die weer hier in die Kaap. Dit is twee van die plekke waar ek gebly het. Ek is gebore, het grootgeword, skool gegaan asook universiteit toe in Bloemfontein in die Vrystaat. So my verwysingsraamwerk is klein in ag genome die plekke waar ek al gebly het.

Maar net drie plekke?

Ja, net drie plekke.

So gebore en getoë in Bloemfontein, internasionaal en nou in die Kaap. Vertel van jou familie?

Ja, ek het ’n vrou en twee seuns. Die een is 1 jaar oud en die ouer een 4 jaar oud. Hulle is ’n hand vol maar gelukkig begin hulle mekaar nou besig hou. Dit is genoeg om ’n mens se naweke ’n paar weke vooruit vol te maak.

  1.  Wat is die rede dat jy jou tipe besigheid – die reis besigheid – aangepak het? Wat is die hoofrede daarvoor?

Dit is bloot per toeval dat ek in dié industrie betrokke geraak het want toe ek en my vennoot die besigheid so 10 jaar terug begin het, was dit seker maar kort nadat ek Engeland toe gegaan het. Die probleem wat ’n mens dikwels vind as ’n expat in Engeland, al het jy ’n paar werk kwalifikasies agter jou naam, kan dit nogtans baie moeilik wees om in jou werksomgewing reg te kom. Maar dit is ook as gevolg van die akademiese agtergrond wat ek gehad het.

Ek het met verskillende besigheids konsepte begin werk, onder andere, immigrasie visums en onderwys plasings en so aan. Saam met die immigrasie visums was daar baie ouens wat reis visums nodig gehad het, veral Suid-Afrikaners, soos die Schengen visum. Almal wat al daar gewoon het, is seker bekend met die Schengen visum konsep. Op daardie stadium het ek begin kyk om te registreer by die Franse Konsulaat om namens mense hierdie visums te verwerk sodat hulle nie self in die lang rye hoef te gaan staan nie.

Dieselfde tyd het my vennoot, Karel, wat min of meer dieselfde tyd as ek oorgegaan het, baiekeer na plekke soos Parys en Amsterdam gegaan en dan vriende geneem. Hy het ’n goeie manier om mense te neem na interessante plekke en toe kom hy na my toe en sê, wel hy wil ’n toer besigheid begin maar hy weet niks van besigheid af nie en al die vervelige goed wat agter die gordyn gebeur. Dit was meer my nis gewees en dit is hoe ons in die toerisme industrie op ge-eindig het. Dit is die man wat die passie vir die ding gebring het en die man met die meer rasionele besigheid rompslomp daaragter wat kragte saamgesnoer het.

Dit is nou maar net weereens ’n goeie voorbeeld van hoe “twee beter is as een”, of sinergie nè? Op daardie stadium toe julle daarna begin kyk het, het julle enigsins ’n idee gehad waarheen dit sou lei? Was daar enige “trends” wat julle laat dink het julle kan ’n lewe daarvan maak of, was dit ’n kwessie van kom ons kyk maar wat gebeur?

Ja, ek dink in ’n sekere mate was die hoof dryfkrag agter ons die Schengen visums gewees en ons het dit aangevul met toere na Parys en Amsterdam wat ’n baie gewilde konsep was. Ons is al twee redelik ambisieuse mense en dus as ’n mens jonk is, is jy partymaal ook maar bietjie voorbarig en voel jy kan doen net wat jy wil en daar is nie ’n perk wat jy kan bereik nie. Ons het dus al twee die idee gedryf en baie keer blindelings inbeweeg en ons eie professie geskep, en vorentoe gedryf. Ek dink nie ons het altyd ’n goeie idee gehad van wat die uitkoms sou kon wees nie. Verseker, op daardie stadium, sou ons nie kon gesê het dat 10 jaar van nou af is dit presies die situasie waarin ons sou gewees het nie en hoe ons sou gevorder het nie. Daar was altyd ’n hunkering en ons het geglo ons sou dit bereik en die pad kon loop wat ons wel geloop het – natuurlik met baie draaie en anders as wat ons gedink het – so daar was die stille geloof dat ons sou uitkom waar ons wou uitkom.

Dit is weereens ’n goeie voorbeeld – ek dink aan die gesegde – dit is baie makliker om die kar te draai as die wiele vorentoe beweeg, nè?

Dit is absoluut waar en jy moet daarin wees om iets te doen. Dit was, op daardie stadium, maar ’n geval van jy begin al weet jy nie rêrig iets nie en jy spring in met beide voete en leer swem. Jy sal egter nooit leer swem as jy nie in die “game” is nie. Dit is maar hoe ons daarmee begin het.

  1.  Vertel ons ’n bietjie meer oor hoe julle te werk gaan om nuwe besigheid te bekom?

Ons hele bemarkingstrategie is, of 95% van ons strategie, is digitaal van aard. Alhoewel ons ’n toer operateur is, kan ons dikwels geklassifiseer word as ’n digitale of aanlyn maatskappy wat toere doen. Dit is dus nie dieselfde konsep as byvoorbeeld Expedia en diesulke webwerwe nie, maar ons pogings is baie digitaal gefokus asook ’n kombinasie van verskillende strategieë en verskillende metodes wat ons volg vir blootstelling om kliënte te werf. Baie mense ken die kanale wat ’n mens kan gebruik soos Google Ad Words en “paid advertising”. Ons kyk byvoorbeeld na SEO (Search Engine Optimization) en jou webwerf “sell” wat eintlik maar jou “wikkel front” is, as ek dit so kan stel, en hoe dit aanklank vind by jou kliënte. Sosiale media is ook baie groot op ons kalender in terme van ons blogs en ons Facebook teenwoordigheid, Twitter en alles wat daarmee gepaard gaan. Dit is primêr wat ons doen.

Natuurlik, die wetenskap daaragter sal ek sê is honderd maal meer ingewikkeld as wat ek nou genoem het en die spanne wat daaragter werk want jy kry in elke veld spesialiste. Daar is jou SEO spesialiste, jou “paid advertising” spesialiste, jou digitale sfeer drywers spesialiste en so aan en omdat dit so ’n unieke en nuwe markplek is en nie tradisionele patrone volg nie, is dit nogal redelik gekompliseerd en ingewikkeld. Dus, agter alles wat ons doen, is daar ’n baie fyn uitgewerkte strategie en baie hoogs vaardige mense wat daaraan werk en baie tyd, energie en geld wat ’n mens moet spandeer om dit te laat werk.

  1.  As jy kyk na die verskillende strategieë, of digitale strategieë, wat sou jy sê is julle top drie wat die meeste besigheid genereer en, om daarby aan te sluit – julle het nou Facebook, Twitter – maar toe julle die besigheid 10 jaar gelede begin het, het dit nie bestaan nie. Noudat julle dit geïntegreer het, wat sou die persentasie van nuwe besigheid wees wat deur die sosiale media bemarking ’n bydrae lewer?

Ons het begin op google adwords. Ek dink dit was 2008 of 2009, kan nie presies onthou nie. Natuurlik het dit ’n baie onmiddellike en wesenlike verskil gemaak aan ons besigheid want onmiddellik is jou blootstelling internasionaal. Met tradisionele kanale kan jy dit slegs plaaslik doen tensy jy ’n enorme begrotings het. Die impak op ons besigheid was wesenlik en stel jou internasionaal bloot en, as jy dink, ons is in Engeland gebaseer maar ons hoof fokus area is Noord-Amerika, Suid-Oos-Asië, Australasië en daardie tipe plekke van waar ons kliënte kry. Daarom sê ek dit het ’n baie groot invloed gehad. Die grootste enkele dryfkrag is google adwords. Dit is natuurlik omdat jy jou blootstelling koop en dit is nie so eenvoudig soos mense dink nie – kom ons gooi die geld en hoe meer geld jy insit hoe meer kliënte gaan jy kry nie. Wat jy wel kan doen as jy dit reg bestuur is dat jy koop basies jou kliënte basis alhoewel dit is ’n baie duur metode om kliënte te werf en statisties kom 58% van ons kliënte deur Google by ons uit en dit sal tien teen een ons “direct spend” wees of ons direkte kanaal waarvoor ons betaal.

Die ander wat daarop volg is ons sosiale media – jy het verwys na sosiale media – dit is nie daar om direk kliënte te werf nie. Dit het meer ’n dryfkrag agter ’n SEO – ons noem dit generiese blootstelling want dit verhoog jou generiese “rankings” op Google ensovoorts. Dit is waarvoor jy nié betaal nie, maar dit is half geverifieer deur Google om te sê, “hierdie is ’n goeie maatskappy, dit is op die eerste bladsy en jy kan koop deur hulle.” Dit kry ook baie meer prominensie. Ek sou sê dit is ’n groot plus en omtrent 20% van ons nuwe kliënte sal daardeur by ons uitkom.

Soos jou handelsnaam sterker word in die mark sal dit ook ’n invloed hê. Dan is daar ook ’n kombinasie van ander goed soos jou handelsnaam wat ek genoem het, sosiale media elemente, “word of mouth” verwysing deur mense wat blootgestel was aan jou besigheid wat die kombinasie opmaak.

Tradisioneel is ons in ’n industrie wat verkoop deur reisagentskappe soos Flight Centre ensovoorts. Dit maak ’n klein persentasie, so 5% van ons kliëntewerwing uit. Enige een wat begin in ’n besigheid moet maar begroot vir google adwords want dit is die vinnigste wat jy ’n voet kan kry in die digitale bemarking.

Die ding van google adwords is dat daar is ’n “return on investment” wat jy van verseker is , is dit nie? Jy weet verseker dat elke R100 wat jy gaan spandeer gaan jy ongeveer soveel besoeke op die webwerf kry en daarna lei dit tot ’n navrae en dan verkope?

Ja, in teorie. Dit is hoekom ek sê dit is ’n baie fyn wetenskap want dit gaan oor jou passing in jou mark en daar is soveel teorieë en strategieë wat daarin gaan. Iemand wat nie weet wat hy doen met google adwords nie of wat dink hy wéét wat hy doen, kan vir jou baie geld kos met baie lae opbrengste. Dus moet jy kyk na jou industrie want jou koste per werwing, as ek dit so kan stel, kan fenomenaal hoog raak. Inteendeel, dit kan so hoog raak dat jy heeltemal uit jou begroting hardloop en nie die opbrengste kry nie. Dit is ’n goeie strategie veral in ’n mikro-omgewing, as jy ’n klein geografiese area het, is dit baie makliker om jou voete te vind daarmee. Jou blootstelling is baie kleiner en dus is jou koste laer. Dit is ’n beter leerskool vir jouself maar sodra jy groter groei kan dit hoogs winsgewend wees maar dit kan ook bitter riskant wees. Die ongeluk kan gebeur dat ’n mens seker nie in die beginjare rêrig spesialiste in diens neem of agentskappe wat dit vir jou kan doen nie en dan moet ’n mens maar self die werk doen en probeer uitvind hoe presies dit alles werk.

  1.  Wat is jou gevoel oor Facebook se “paper click” model? Ek verstaan dit is relatief jonk maar opkomend?

Ja, ek weet nie. Die ouens in die digitale veld sal beter vir jou kan antwoord. Na my mening, omdat hulle soveel van jou persoonlike besonderhede het, is hulle profiel saamstelling baie nouer. So aan die eenkant kan jy seker argumenteer dat die passing van jou produk met wat ’n ou op die ou end soek, gaan baie nader aan mekaar wees met ’n groter kans op sukses, maar my mening is dat dit raak amper te “indringerig” met jou Facebook. Die ding is dat as jy byvoorbeeld met jou vriend praat oor sy toer in Parys dan is daar skielik ’n ou wat heeltyd Parys aan jou probeer smous. Dit voel vir my dit grens baie naby aan die (misbruik) van jou persoonlike data.

Daar is baie strategieë deur Facebook wat baie effektief aangewend word. As jy dink aan jou her-bemarking strategie wat briljant werk veral vir maatskappye in Suid-Afrika soos Takealot ensovoorts, wat ons ook toepas en dit werk baie goed. So daar is baie spektrum in die strategie wat hulle het maar die jurie is nog uit oor hoe suksesvol hulle betaalde advertensie strategie of kanale sal wees.

  1.  Wat is die grootste besigheidsfout wat jy nou in hierdie “avontuur” tot dusvêr gemaak het? Moenie skaam wees nie, laat die Klipkouers weet wat om nié te doen nie.

Weet jy dit is ’n baie moeilike vraag en vir die eenvoudige rede dat daar is honderde foute. Dit is die een na die ander. Soos ek altyd sê dit is maar skoolgeld wat ’n ou betaal. Dit is die manier om te leer want jy maak foute en partymaal maak jy dit meer as eenmaal wat erg onnosel is. Jy moet dit net nie ’n derde maal maak nie. Daar is baie foute gemaak en ons maak nog steeds foute alhoewel dit raak darem nou minder met die loop van die tyd.

Die een ding wat ek as ’n enkele faktor kan uitlig – in 2012 het ek na ’n lang tyd in Engeland probeer – want ek het altyd die begeerte gehad om terug te trek Suid-Afrika toe en ek het dit gedoen – en baie van die belange van die maatskappy in ander mense se hande oorgelaat wat vir ons, terugskouend, baie skade kon gedoen het. En die les wat ek dááruit geleer het, is dat ek die kar voor die perde ingespan het. Daar moes ’n baie langer oorbruggingstydperk gewees het. ’n Mens moet besef dat ’n eksterne persoon gaan nooit die passie en dryfkrag hê wat jy het vir jou eie besigheid nie. Dit is dus die grootste enkele fout wat ek kan uitlig tussen al die baie ander.

Die gevolg daarvan was dat ek inderhaas, binne ’n paar maande, moes teruggaan Engeland toe om ’n paar baie drastiese veranderinge in te bring. Aan die ander kant, kan ’n mens vir jouself ’n geleentheid skep want dit het die tekortkominge ontbloot en dit was eintlik ’n baie groot keerpunt in ons besigheid se geskiedenis gewees. Dit was nou nie ’n doelbewuste fout gewees nie, alhoewel dit ’n groot fout was, maar die uitkoms daarvan was natuurlik baie positief.

Dit is baie interessant. Vertel vir ons, wat was daai uitkoms?

In 2013 was die besigheid baie gedryf op ’n entrepreneuriese styl wat baiekeer impulsief en nie baie analities was nie. Dit is baiekeer die kenmerke van ’n “start up” en dit is maar hoe dit gaan. Dit is tog “per definisie” wat entrepreneurs doen. Ek dink, veral in ons industrie is daar baie areas waar jy analitiese elemente moet inbring, jy moet baie berekenend wees en baie strategies dink want dit is ’n baie turbulente gebied en dit is soos skaak op ’n baie groot skaal.

Ek dink die uitkoms was dat die hele benadering van wat ons doen het ons op sy kop gekeer daarna en dit is hoe ons die industrie benader want dit is die vlak waarna ons gegroei het. Die resultate daarvan het vir ons baie goed gedoen, finansieel werk dit; volhoubaarheid werk dit; ons maatskappy en kultuur het ’n groot ommeswaai gemaak ensovoorts. Maar sonder daardie keerpunt, of daardie kopskuif – wat nie so vinnig sou gebeur het as dit nie vir die fout was wat ek gemaak het nie – sou ons nie al so vêr gevorder het op hierdie pad om ons dinge te bestuur soos ons dit tans doen nie.

Dit is ’n fantastiese voorbeeld. Die klassieke “failing forward” nè? Jy het ’n fout gemaak en julle het daaruit geleer maar nie net – kom ons probeer om dit nie vir ’n tweede of derde keer te doen nie –  maar kom ons vat die slegte saak en kyk of ons ’n kwantum sprong kan maak in die proses.

Ja-nee, dit is so. Jy moet dit maar in ’n geleentheid omskep andersins sit jy net en huil oor jou foute. ’n Mens moet iets positief daaruit kry.

  1. Wat is jou grootste swakheid?

’n Ding waarmee ek, asook my vennoot, sukkel is die evaluering van mense voordat jy rêrig ’n lang pad gestap het met ’n persoon. Wat ek bedoel is dat ons albei geneig is om mense maklik te vertrou en, moet ek eerlik sê, mense soms verkeerd opsom – meer na die positiewe kant egter. Dit is seker nie ’n slegte eienskap nie, maar in die besigheids konteks kan jy jouself in die voet skiet. Ek dink in terme van “swakheid” is dit is iets wat jou soms inhaal. Dus sal ek sê dat evaluering van mense of ’n te vinnige evaluering of opsomming van ’n persoon, is nogal iets waarmee ek sukkel.

  1.  In die lig van die fout wat jy gemaak het met die aanstel van ’n persoon om die besigheid te bestuur daardie tyd, het julle nou ’n ander manier van dinge nou doen in julle werwing van persone?

Met tyd kom wysheid. Natuurlik as ’n mens jou swakheid besef dan moet jy iets daaromtrent doen. Waar ons groot verandering gemaak het, was in die verstandhouding met die mense wat jy in diens neem en mee saamwerk. Dat daar ’n evaluerings tydperk is oor ’n langer periode sodat ’n mens mekaar kan beter verstaan en dit werk beide kante toe om te sien wat ’n persoon na die tafel toe bring. Dit is een manier om dit ’n bietjie meer versigtig en deursigtig te doen maar, belangriker as dit, sou ek sê, aan die eenkant, het ons gelukkig tans mense in sleutel posisies wat mense is met wie ons al ’n lang pad loop. Dit is dus mense wat jy presies weet wat jy kan verwag van hulle en daar is ’n groot vertrouensverhouding en dit maak dit vir ek en my vennoot makliker want ons het minder mense om te evalueer.

Dié mense het natuurlik ander mense ondergeskik aan hulle waarop hulle dit moet toepas maar vir ons, het dit uit die aard van die saak, baie makliker geword. Die ander ding is, hulle sê mos in Business School “sweat the details” al is dit nie jou forte of jou veld nie, jy moet maar ’n intense belangstelling en kennis hê van elke liewe aspek van wat in jou besigheid aangaan. Dit stel jou in ’n beter posisie om te evalueer of ’n persoon opgewasse is en die uitkoms sal kan lewer wat jy wil hê. Dit is dus een van die dinge wat jy maar net moet doen – jy moet jou hande aanhou vuilmaak – jy gaan nooit rêrig kan terugstaan en sê, “daar gaan julle”, nie. Met hierdie metodes het ons al redelik probleme opgelos.

Ek dink baie ouens besef dit nie, naamlik, dat hoe meer jy jou hande vuilmaak om jou eie besigheid te verstaan, hoe beter sal jy weet wat jy in ’n kandidaat soek. Ek het nog nooit so daarna gekyk nie, maar dit is baie goeie advies.

Ja, die ding is dat daar is natuurlik altyd die gevaar dat jy té betrokke is maar jy moet ’n goeie balans vind om jou afstand te hou en vertroue toe te ken aan mense waar dit verdien word. Die ideaal is tog om mense wat meer kundig en vaardig as jy is, aan te stel maar die evaluasie wat jy moet maak, op die ou end, is of die persoon méér kundig en vaardig as jy is en wel jou belange sal uitvoer soos jy dit verlang. Dit plaas jou in die posisie om dit te doen en as jy dit vind dan maak dit alles maklik want dit is die oomblik wat jy dan kan terugstaan en daardie persoon toelaat om vorentoe te beweeg deur ruimte daarvoor te gee.

  1.  Wat is die één gewoonte wat jy wens jy het?

Daar is meer gewoontes wat ek wens ek nié het nie, om eerlik te wees! Ek wens ek kon meer gedissiplineerd wees om om te sien na myself wanneer dinge ’n bietjie intens raak in besigheid. Dit is gewoonlik die een ding wat ’n ou laat gaan, as ek dit so kan stel. Jy eet verkeerd of jy oefen nie meer nie en sulke goed. Dit is maar iets wat ek baie van bewus is want ek het al agtergekom dat as jy daai gewoontes het en dit is deel van jou lewe –  soos om gesond te eet en te oefen – dan kom dit uit in jou daaglikse funksionering ook en dit is iets waaraan ek hard moet werk. Ek wens dit was maar net méér deel van my lewe gewees.

Dus om net bietjie beter na jouself te kyk vir die brein- en liggaamsenergie vlakke. Ek dink vir die meeste van ons is dit maar ’n probleem.

Ja, dit is so. Ons probeer dit sien as iets wat jy moet doen maar dit moet eintlik ’n geïntegreerde deel van jou daaglikse lewe wees en dit is wat ek bedoel, ’n gewoonte, soos tandeborsel, ’n moét want dit maak ’n groot verskil aan ’n mens se funksionering en kognitiewe vlakke op die ou end.

  1.  Watter sagteware program of applikasie kan jy nie sonder klaarkom nie?

Ons gebruik verskillende programmatuur. Vir myself is Excel redelik die alfa en die omega van wat ek doen dit.  Excel as ’n toepassing – veral op strategiese vlak as jy besluite moet neem – is dit ’n baie handige toepassing om te gebruik vir evaluasie van jou besigheid en om toekoms projeksies te doen. In ons besigheid is dit so ’n belangrike funksie dat ons het dit al omskep tot ’n program op sy eie. As jy weet wat om te doen en jy weet hoe om daardie data te gebruik, is dit ’n ongelooflike handige program waaruit jy baie kan agterkom van die stand van jou besigheid.

  1.  Is daar ’n besigheids boek wat jy sou aanbeveel as ’n moét lees?

Ek lees nie baie besigheids boeke nie. Natuurlik, op universiteit het ek baie gelees. Die een boek wat ek wel dink – nie as ’n besigheids boek per sé nie – ’n baie groot inspirasie is, is die biografie van Anton Rupert. Veral in die Suid-Afrikaanse konteks is dit ’n baie insiggewende en inspirerende boek. Daar is soveel besigheid beginsels daarin vasgelê soos hy dinge gedoen het dat ek dink vir enige ou wat hierdie pad wil loop van “eie besigheid” of selfs net daaraan dink, is dié boek amper ’n moét vir ’n Suid-Afrikaner.

  1.  Is dit die één persoon wat jy sal uitlig as jou inspirasie of is daar enige iemand anders?

Ja, ek dink so. Beide hy en sy hele familie. Hoe hy begin het. Hy was ’n baie dinamiese mens maar die beginsels wat hy gehandhaaf het deur die bou van sy hele sakeryk is noemenswaardig. Dit is baie goeie menslike beginsels maar ook baie goeie besigheidsbeginsels asook hoe hy dit oorgedra het na sy seun, Johan Rupert. Dit is rêrig iets om te admireer want ’n mens kry baiekeer dat wanneer iemand ’n groot sakeryk het, dat die kinders of kleinkinders nie altyd so goed inval met die styl van besigheid doen nie wat baiekeer probleme veroorsaak. Ek dink Anton Rupert is verseker ’n mens wat jou kan inspireer maar so ook sy seun in ’n groot mate. Hoe hy dit oorgedra het aan hom en hoe Johan Rupert die sakeryk uitgebrei het deur dieselfde beginsels toe te pas. Dit nadat hy vir 20 jaar onder die mentorskap van sy pa gewerk het voordat hy die leisels kon oorneem. Sulke mense is ’n goeie voorbeeld vir jou.

Ek stem saam met jou en wat dit ook interessant maak is dat dit baie selde is dat jy vind dat die groot man dit kan oordra aan sy kinders wat dan voortgaan en uitbrei op daardie sukses. ’n Groot getuienis van hoe die man te werk gegaan het.

Ek sal nie sê dit is uniek nie. Dit is baie keer so dat die volgende generasie nie daardie waardering het van wat daarin gegaan het om die sakeryk te bou nie, maar húlle het dit baie goed reggekry, na my mening. Ek dink dit was omdat daar sekere vaste beginsels was van dinge doen en ’n sekere uitkyk oor besigheid en die deel van rykdom wat geskep word en die hele benadering. Wanneer jy die boek lees dan sien jy daar is baie meriete daarin.

  1.  Wat is jou gunsteling aanhaling?

Ek is nie ’n ou wat heeldag aanhalings op my muur hang nie. Die een ding wat altyd wel vir my uitstaan, nie dat ek sê ek lewe daarvolgens nie, is die aanhaling van Winston Churchill wat na die Tweede Wêreldoorlog by ’n skool of iewers ’n toespraak gelewer het. Na ’n lang aanloop voor die toespraak van sy CV en alles en die afwagting van die toespraak wat hy sou lewer, het hy op die verhoog gestap en al wat hy vir die gehoor gesê het, was, “never, never, never, give up”. Sovêr aanhalings gaan en die situasie wat daar was, is dit iets wat altyd in my gedagte opkom veral in ’n ou se eie besigheid. ’n Mens moet nou nie onnosel wees nie, maar die realiteit van die saak is dat jy moet dikwels aanhou verby die punt wat jy dink jy kan en wat jy wil. So dit is ’n aanhaling wat ’n mens maar naby jou kan hou.

Dit sluit mooi aan by ons as Klipkouers. Die groot ding is “aanhouer wen”. Dit is daai grit vir alle besigheid. Dit is maar net so dat as jy opgee gaan jy val en nêrens kom nie. Jy moet deurdruk.

Ek dink baie mense besef nie dat, veral in die beginstadium, is uithouvermoë dié ding. Mense het verskillende maniere om ’n ding te doen. Party mense gaan hardloop ’n maraton en hy maak dit klaar en ’n mens kyk na fisiese vermoëns. Wat mense nie besef nie is dat om hierdie pad te stap – vir sommige meer as vir ander, maar die gemene tema is –  dat dit ’n baie harder uitdaging is as wat jy ooit gaan hê as om die Comrades te gaan hardloop. Hierdie is ’n harde pad wat jy besluit om te loop en dus is daardie gesegde en siening iets wat jy maar naby aan jou moet hou.

Ek sê altyd dat die grootste twee spieëls in my lewe is my kinders se optrede en natuurlik, besigheid wat jou swakhede en die goed wat jy nie reg doen nie baie gou gaan uitwys en jy kan nie verby daardie punt kom as jy daardie goed nie aanspreek en, weereens, aan te hou om iets nuuts te probeer of, weereens, te probeer vir die tweede keer en so aan.

Dit is baie waar. Mense dink om jou eie besigheid te hê is so of so maar dit is nie ’n “9 to 5” ding nie. Dit is deel van jou lewe altyd, heeltyd en veral in die begin selfs as jy op vakansie is. Al is jy nie geografies daar nie dit is ’n deel van jou en so geïntegreer met jou lewe en ek dink dit is wat dit baiekeer taaier maak. In die goeie tye is dit lekker maar in die swaar tye is dit nie so lekker nie, want jy kan nie jou kantoordeur toemaak en dan is alles verby vir die dag nie. So jy is reg. ’n Besigheid ontbloot baie dinge van ’n mens.

  1.  Jakes, ’n laaste vraag. Met alles van wat jy nou weet, al jou wysheid, as jy môre kan oor begin, watter soort besigheid sal dit wees?

Ek sal presies dieselfde doen. Wat lekker is van die industrie waarin ons is, is dat dit die grootste dienste industrie, die toerisme industrie, in die wêreld is en die geleenthede en die opsies daarbinne is legio. Daar is soveel variasies in wat ons doen, watter pad jy in die industrie wil loop en op die ou end, die produk wat ’n mens bied, al is dit ’n diens. Dit gaan oor die waarde wat jy toevoeg tot mense se lewens en dit is ook ons missie en visie in die maatskappy – ’n lewenservarings verandering wat ons aanbied. Dus is dit ’n industrie waarin ek gemaklik is en wat ek baie geniet. Ek dink dat as ek moes oor begin dan sal ek dit natuurlik heeltemal anders gedoen het inaggenome al die kennis wat ’n mens het. In ’n sekere mate het ek daardie geleentheid gehad want ons het baie van die funksionaliteit uitgeskuif na Suid-Afrika toe, wat ’n mens noem die “back office”. Dit is waar baie van die strategiese besluite geneem word en – behalwe vir die uitvoering van die produkte –  word dit uit Suid-Afrika hanteer en is dit in ’n sekere mate ’n “oor begin”. Dit is baie opwindend om die kennis met ’n “clean slate” te hê en daarmee weer te bou. Dus sal ek binne die industrie waarin ek tans is, sal ek dit weer wil doen. Ek stel belang in ander industrieë en ek glo die beginsels bly dieselfde maar die industrie waarin ek werk is baie aanloklik. Wie hou nie van vakansie nie? So ek sal tien teen een weer daarin op eindig.

Ek verstaan wat jy bedoel veral in die opset van die “global village” en is julle besigheid werklik “global” en net daardie variasie is ’n fantastiese ding. Nuwe kulture, nuwe tale en nuwe manier van dinge doen. Ek dink dit is definitief ’n fantastiese industrie om in betrokke te wees.

Ja en soos jy sê, dit is mense van ander lande. Ons kliënte kom van dwarsoor die wêreld en dit is mense van alle ouderdomme en verkillende agtergronde en alhoewel jy nie direk met elke ou kontak het nie, het dit tog ’n uitwerking op jou besigheid en jou kultuur en dit is baie opwindend. Dit is ’n bevoorregte industrie om in te wees as jy jouself daarin kan vestig.

Jakes, baie dankie vir jou tyd. Dit was ’n baie interessante onderhoud en dankie vir jou insig.

Dankie vir die geleentheid.

Waar kan die Klipkouers jou kontak?

Ons webwerf: www.expatexplore.com

Epos: [email protected]

Visited 76 times, 1 visit(s) today