Gesoute eiendomsontwikkelaar kry steeds baie satisfaksie om ‘n gebou uit die grond te sien groei

Die Klipkouer met wie ek vandag gesels is Capalie Botha, stigter van Elektron Ontwikkeling. Wat vir my interessant was van my gesprek met Capalie is hoe sy besigheid die kern van die funksies van eiendomsontwikkeling insluit, naamlik ontwikkeling self, die verkope van die eiendom en dan, die verhuring van die eiendom.

Capalie, welkom.

Dankie, Jacques.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself. Waar in die wêreld bly jy en gee bietjie agtergrond oor jou werk en so aan.

Ek het grootgeword in Natal vir ’n deel van my lewe maar later in die Vrystaat, hoërskool toe gegaan, gematrikuleer en vandaar in Bloemfontein gaan studeer. Ek het B.Com. studeer vir 3 jaar en toe my loopbaan begin as a finansiële bestuurder vir ’n familiebesigheid. Ek is al amper 12 jaar getroud en het twee seuntjies 4 en 6 jaar oud is.

Huidiglik woon ons in Potchefstroom waar my kantore is en die meeste van die besigheid bestuur word maar ek is ook dikwels in Johannesburg waar baie van die eiendomme wat ons bestuur en kliënte se belange is.

So dinge kook op Potchefstroom?

Ja, Potch gaan aan. Die studente mark is ’n baie groot mark hier. Daar is miskien ’n bietjie van ’n oor-aanbod die afgelope paar jaar soos ouens die Puk opgeblaas het en ek dink ook die feit dat dit een van die groter Afrikaanse universiteite is. Ek moet met hartseer sê dat Kovsies se verval bygedra het tot die groei van Puk. Die politieke bewegings het egter ook ’n negatiewe invloed gehad die laaste paar maande deurdat die regering vereis dat sekere hoeveelhede verteenwoordiging van ander bevolkingsgroepe moet wees en die Puk-kampus is ’n teiken.

So ouens het begin lig loop vir Potch en ons sit rêrig met woonstelle wat opgekom het soos sampioene en ek dink daar is bekommernis dat daar meer gebou is as wat daar studente aanvraag voor is. Die residensiële en kommersiële mark lyk nog goed en Potch, in geheel, groei nog.

Read also: Klipkouers Potgooi: Lekker gesels met Meyer le Roux, mede-stigter van Buffelsfontein Baard-olie.

Jy kry mense wat van Johannesburg verskuif na Potch toe en dan pendel na Johannesburg. Dit is bietjie meer as ’n uur se ry terwyl jy soms twee tot drie ure kan neem van Pretoria na Johannesburg. So Potch word dan oorweeg as ’n opsie vir die kwaliteit lewe wat hulle dan kan hê wanneer hulle wel by die huis is.

Dit is baie interessant en nogal skrikwekkend hoe mense se verwysingsraamwerk of definisie van pendel verander het oor die jare. Ek onthou die dae toe enige pendel wat langer as 10 minute, problematies was.

  1. Wat is die rede dat jy hierdie tipe besigheid en industrie aangepak het?

Ek het maar altyd ’n liefde vir eiendom gehad en ek het al vroeg in my lewe geleenthede gesien in eiendom en altyd die behoefte gehad om dit êrens te gebruik. My pa was ’n ingenieur en ek weet nie of hy noodwendig daardeur ’n rol gespeel het nie, maar ek het al op universiteit geleenthede raakgesien en probeer daarvan iets maak maar nie rêrig totdat ek begin werk het nie. Eers toe het ek my hand probeer in die eiendomsbedryf maar toe dit eers posgevat het, was dit vir my baie opwindend.

Ek vertel dikwels vir mense die stukkie van die fliek “Pretty Woman” waar Julia Roberts vra wat doen hy? Toe sê hy mos vir haar hy koop maatskappye en dan verbeter hy die maatskappye en dan breek hy dit op in klein stukkies en dan verkoop hy daardie stukkies aan mense en dan maak hy nou wins daardeur.

My pa-hulle was raadgewende ingenieurs gewees en het altyd planne geteken van pyplyne en alles maar as hulle klaar is, sien jy niks nie. Ek het gevoel hy werk hard maar ’n mens sien nie wat hy gedoen het nie en daardie idee het my altyd gefassineer. Nou nog, die oomblik wat die gebou uit die grond uit begin groei, die stene dakhoogte bereik, vind ek baie opwindend en bevredigend. Dit voel of ek iets letterlik en figuurlik bou en wat daar staan sal waarskynlik vir die res van my lewe daar wees en dus gee dit my baie bevrediging.

Dit is ’n interessante perspektief en ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Dit is ’n baie rare produk waar jy daardie voorreg het want meeste produkte word in ’n fabriek gebou. Soos jy sê jy sien dit as dit klaar is op ’n rak of jy sien dit in die vorm van ’n plan op ’n stuk papier maar die gebou sien jy ontwikkel.

  1. Hoe gaan jy te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek het verskillende aspekte in my besigheid en van hulle werk in ’n baie beskermde omgewing waar ek ’n makelaar het wat vir my kliënte werf, spesifiek met die koop van eiendom as ’n belegging. Wanneer ek ’n eiendom ontwikkel wat nie in daardie vereistes voldoen nie sal ek ’n ander agent aanstel maar die wêreld van kliënte het die laaste jaar wesenlik verander met die inneem van my nuwe eiendomsagentskap waar ek basies in die ope mark meeding. In die verlede was dit nie die geval nie.

Plaaslik gebruik ons die internet bemarking van byvoorbeeld Property24 en Private Property. Ons het nog nie ons eie webwerf nie, maar is besig om dit te ontwikkel maar dit is ook ’n ding wat stadiger posvat in die platteland as in die stede. In die stede is 99.9% mense wat via die internet en epos met jou werk maar in Potch sal die ouens begin om die internet te gebruik om eiendomme op te spoor en te identifiseer maar hulle wil jou nog steeds ontmoet en saam met jou uitgaan en gaan kyk na plekke voor hulle ’n finale besluit maak.

Ons gebruik ook nog koerante. Dit is steeds ’n medium wat gewild is en ek neem ook elke week die koerant en kyk wat adverteer ander agentskappe. Ek doen dit vir navorsing maar ook as ontwikkelaar om moontlike projekte te identifiseer waar ek kan grond bekom. Die koerant kan dus nie weggegooi word nie, maar in ’n dorp soos Potch is daar nie ’n beter bemarker vir verhuring as “word of mouth” nie. As jy kan goeie diens lewer en getrou aan jou woord is, dan is dít die aspekte wat jou besigheid die beste sal laat groei. Dit is nie ’n vinnige manier nie, maar definitief ’n goeie manier om dit te doen want ’n aanbeveling is baie werd.

Read also: Klipkouers Potgooi: Paul Vorster hou sy nis Britse ingenieursfirma aspris klein, ten einde wêreldklas diens te waarborg.

Vind jy dat dit dieselfde is in Johannesburg? Die “word of mouth” en dienslewering, is dit nog deurslaggewend daar?

Ek dink nie “word of mouth” in Johannesburg is so waardevol in my mark nie. Kom ons neem ’n kantoor byvoorbeeld, soos FNB se hoofkantoor, wat in Sandton is. Daar sit seker ’n 100 mense op ’n vloer in die gebou in Sandton. Daardie 100 mense bly tot so vêr as 150 kilometers uitmekaar uit. ’n Ou wat in Montana bly gaan nie vir ’n ou wat in Alberton bly sê, “hoor hier my agent in Montana is baie goed. Jy moet hom gebruik”, want hulle bly nie in dieselfde omgewing nie. Jy kry selde ’n agent wat oor so ’n groot streek sal werk, inteendeel, glad nie. Dus, in daardie opsig is dit nie in Johannesburg van soveel waarde as wat dit in Potch is waar jy ’n baie kleiner gemeenskap het nie.

Wat sou dan van waarde wees vir die Johannesburgers?

Verwysings is wel belangrik maar ek dink dit werk agterstevoor. Dit gebeur dat ’n huurder by my ’n woonplek wil huur, hy sal my eenheid opspoor deur die internet en dan sal hy by my wil huur. Wanneer hy by my huur dan sal hy my vra vir kontakbesonderhede van ander huurders wat deur my huur en dan sal ek dit gee en sal ek só ’n positiewe terugvoer kry van my kliënte wat hy dan skakel.

In Potch werk dit andersom. ’n Vriend sal my vra wie kan ek aanbeveel en dan sal ek sê, “ABC Eiendomsagentskap”. Dan gaan hy na ABC en vra hulle wat het hulle te huur en huur hy op grond van my verwysing na die agentskap en nie op grond van die eiendom nie. In Johannesburg soek hulle eers die regte eiendom in die regte area voor hulle kyk wie is die agente en wie verhuur en bestuur.

Interessant die dinamiek en verkil in die koop en verhuring kultuur van die twee areas.

  1. Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusvêr gemaak het?
Capalie Botha

Dit is ’n moeilike vraag want ’n mens maak maar foute regdeur. Daar is foute wat klein finansiële impak het maar langtermyn probleme veroorsaak. Ek het lank in my lewe ’n klein dingetjie nagelaat – ek het nie ’n ordentlike struktuur in my rekenaar netwerk gehad nie. Dit klink na ’n simpel voorbeeld maar my inbox of my eposse was nie gestruktureer nie en as iemand my iets gevra het wat ek moes aanstuur het dit baie tyd in beslag geneem om die admin uitgesorteer te kry.

Ek moes van die begin af meer tyd bestee het om die basiese goed reg te kry voor ek verder gegaan het. Ek was naderhand so oorval deur my besigheid se groei dat ek daardie deel agterweë gelaat het en daarmee saam gaan ook finansiële bestuur. Dit het dus ’n tydperk geneem en my CA moes baie tyd bestee om die dinge reg te trek sodat die besigheid gladder verloop.

Read also: Klipkouers Potgooi: Jakes Maritz se Britse onderneming, Expat Explore, reël gemiddeld 13,000 Europese toere per jaar.

Die grootste wesenlike fout wat ek gemaak het, is dat ek gedurende ’n emosionele tyd ’n emosionele besluit geneem het oor ’n spesifieke eiendom wat in Stilbaai gesetel was. Ek het eiendom gekoop wat ek eintlik teen my beter wete geweet het nie ’n goeie belegging is nie omdat die mark begin draai het maar my hart het vir my gesê ek is daar om te ontwikkel en nie om te smous nie. Ek het ander betrek en ons het saam die stuk grond gekoop en binne drie maande het Suid-Afrika se mark redelik geval maar spesifiek Stilbaai het handomkeer verander. Die jaar voor ek die grond gekoop het, het daar 650 eiendomme in Stilbaai hande verwissel. Die jaar waarin ek gekoop het, het 53 eiendomme hande verwissel. Ons het daar ’n klomp geld spandeer om skou eenhede te bou maar die laaste ding wat ouens koop as dit finansieel sleg gaan, is vakansie eiendom.

Dit was ’n swak besluit gewees en ek het die verkeerde kriteria gebruik om die grond te koop en daardeur het ek en ’n paar ander mense skade gely. Dit het my geleer dat ’n mens nie on-emosioneel kan staan teenoor besigheid nie, maar jy kan nie op emosies jou besluite baseer nie. ’n Mens moet regdenkend wees as jy na sulke goed kyk en jy moet dat die realiteit die besluit vir jou bepaal en nie die emosie nie, want 90% van die tyd wanneer jy emosie gebruik is dit die verkeerde besluit.

  1. Wat is jou grootste swakheid?

Ek dink dit is ’n persoonlikheid probleem. Ek is iemand wat sag in konflik situasies optree en konflik situasies gebeur maak nie saak watter bedryf jy in is nie. Ek weet wat die regte besigheidsbeginsels in daardie situasie is maar omdat ek bang is vir die konflik sal ek partymaal my besigheidsbeginsels prysgee om die konflik te probeer vermy. Nou, ek gee nie my morele beginsels prys nie maar ek sal weet as ’n ou vir my sê, “hierdie ding kos R10” en ek weet voor my heilige siel dit is net R8 werd maar daar is ’n geskil daaroor want hy het klaar die werk gedoen en ons verskil oor die prys, dan sal ek sê, “weet jy wat ek wil nie hieroor baklei nie, ek voel jy is verkeerd maar ek betaal jou die R10”. Nou dít is ’n swak beginsel want jy doen jouself 100% van die tyd in. Sekere goed is reg en sekere goed is verkeerd.

Ongelukkig, in die besigheidswêreld, dink almal nie so nie. Daar is ouens wat op jou sal trap vir 15 sent en ’n mens moet op jou beginsels vasstaan en ek is baie geneig om te dink dit gaan my naam slegmaak of ek wil nie dat die ou van my slegpraat in die dorp omdat ek hom nie wou betaal het wat hy wou gehad het nie. In sy hart weet hy dat hy verkeerd is en as ek op my beginsel gestaan het, sou dit opgelos gewees het maar ek wil nie die risiko loop dat die ou wel stories gaan vertel nie. Dit gebeur daagliks en het selfs vandag ook gebeur met my. Ja, ek verloor dan baiekeer maar ek stap ’n beter mens uit omdat ek vanaand my kop op my kussing gaan sit en gerus slaap daaroor.

Maar as jy gaan toelaat dat mense konstant oor jou loop gaan jy nie sukses behaal in besigheid as jy net altyd die pak slae vat in situasies nie.

Ek stem 100% saam met jou. Die hele wen-wen situasie. Die terme word so baie gebruik en dit klink amper cliché maar dit is belangrik om ’n wen-wen situasie te skep en vir niks minder as dit te “settle” nie. Dit is nie ’n kompetisie nie en albei moet voel dat hulle het ’n “fair deal” kry. Jy gaan swaar trek as jy toelaat dat mense net oor jou stap en doen wat hulle wil.

  1. Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?

Ek is goed met multi-task maar dit is nie altyd produktief nie. Ek het eintlik ’n slegte gewoonte wat ek graag sal wil afleer en dit is om, terwyl ek werk, kort-kort te kyk na my eposse. Die totaliteit van my besigheid word gereguleer en hanteer per epos en ek sal tipies sit en aan ’n ding werk en as ek net ’n oomblik neem om te dink dan is ek geneig om te gaan kyk na my eposse. Dan is daar ’n epos wat ek dink ek sal gou antwoord en dit maak dan dat ek vyf minute breek van waarmee ek eintlik besig was. Aan die einde kom jy deur die dag en jy het nie eintlik één ding heeltemal afgehandel nie, want jou kop is nie gefokus op een spesifieke taak nie.

Dus is die gewoonte wat ek graag sal wil hê is om myself sovêr te kry om my eposse af te skakel en te fokus op waarmee ek besig is, vir ’n halfuur daaraan te werk en af te handel en dan na die volgende ding aan te gaan. Op die ou end kry jy ’n klomp klein goedjies gedoen maar jy voel nie werklik of jy produktief was nie. So dit is ’n probleem vir my om te bly fokus op wat ek doen. My vrou wat ’n CA is en nou saam met my werk kry dit reg. Jy kan ’n bom langs haar laat val en sy sal nie daarvan weet nie, so gefokus kan sy werk.

Produktiwiteit is belangrik maak nie saak watse besigheid jy het nie. Vir elke halfuur wat korter spandeer word aan ’n spesifieke taak as wat jy veronderstel was, kan jy weer iets anders doen. Dus as jy ’n uur se taak in daardie uur kan aflê, is dit goed maar as jy ’n uur se taak in twee ure doen dan verloor jy tyd wat jy kon gebruik het vir verdere ontwikkeling van jou besigheid of wat ook al. Ek dink my tydsbesteding is nie altyd so produktief as wat dit behoort te wees nie.

Ek praat onder voorbehoud maar ek dink epos is tans een van die grootste vermorsing van produktiwiteit in besigheid, iets soos 20% of 25%, want mense is konstant besig op epos. Ek self is skuldig daaraan dat ek reaktief is op eposse wat deurkom. Dit is soos jy tereg sê, dit breek die momentum van dit waarmee jy besig was voor die tyd. Ek het juis gaan kyk wat is ’n goeie praktyk wanneer dit kom by die hantering van epos en ouens sê doodeenvoudig dat jy kyk na jou eposse om 11.30 in die dag want niks kan rêrig verkeerd gaan tussen 8 uur en 11.30 wat nie kan wag nie. Dit gee jou die geleentheid om dit te beantwoord en dan praat julle weer van 4 uur af wanneer jy weer kyk. Dit is dus basies twee keer ’n dag wat jy na jou eposse kyk en een uur allokeer elke keer.

Maar dit is makliker gesê as gedaan. As ek dink aan die gerief en die ongelooflike konsep van ’n slimfoon en hoe dit ons produktiwiteit verhoog het oor die jare, dink ek dat die net effek dalk nie so drasties is as wat jy dink nie omdat jy die hele tyd eposse beantwoord of reaktief is.

  1. Watter sagteware of applikasie sal jy nie sonder kan klaarkom nie, hetsy persoonlik of in die besigheid?

Ek wil ook net noem van die slimfoon. In die begin toe Blackberry begin het om jou epos op jou foon te sit het almal gedink dit is die slimste idee ooit maar ek het besef dat as ek dit doen, is ek nóóit by die huis nie. So tot vandag toe nog kry ek nie my eposse op my selfoon nie. As ek by die kantoor is kyk ek na my eposse. ’n Selfoon is al klaar so indringend want almal kan jou enige tyd bel en jy is net nooit meer onbeskikbaar nie en as ’n mens nog jou eposse ook daarop kry is jy geneig om reaktief op te tree. Dit is belangrik vir enige besigheid, vir jou as entrepreneur, om ook af te skakel en weg te kom daarvan sodat jy kan fokus op wat belangrik is.

Om jou vraag te antwoord – by die werk is dit belangrik om alles op skrif te doen. In die eiendomsbedryf is dit so dat daar dikwels misverstande en konflik situasies ontaard omdat dit was “so toe ek ingetrek het” of “dit was nie so gewees nie” of “jy het dit of dat gesê” maar jy kan dit nie bewys nie. Ek is dus puntenerig daarop dat alle instruksies, versoeke en so meer op skrif moet wees en daarom is Outlook, so ’n eenvoudige program as wat dit is, vir my kritiek in my besigheid. Dit is vir ons ’n kommunikasie middel, dit is rekord van wat gebeur in ons besigheid want ons doen invorderings van huur en heffings en so meer en dit word regsdokumente wanneer dispute opduik. Outlook is dus onontbeerlik en ek kan nie my besigheid bedryf daarsonder nie.

Ons gebruik ook ’n goeie boekhouding stelsel. Ons gebruik Propsys wat spesifiek geskryf is vir die eiendomsbedryf. Dit was aanvanklik ontwikkel as ’n beheerliggaam programmatuur maar dit is aangepas om verhurings ook te hanteer en dit skakel direk in met Pastel en dan met ’n debiet order stelsel wat Absa ontwikkel het. Ons kan dus nou fisies debiet orders laai op ons rekenaar in die kantoor en die boekhouding is klaar gedoen wanneer jy jou huur inbetaal. Dit allokeer jou betalings en dies meer.

  1. Is daar ’n boek wat jy sou aanbeveel as ’n móét lees?

Uit die agtergrond waaruit ek kom en die besigheid wat ek bedryf het die boek Rich Dad Poor Dad van Robert Kiyosaki, vir my ware beginsels gehad oor beleggings en hoe en waar jy jou geld spandeer. Hy het byvoorbeeld ’n klein beginsel by my gevestig oor die afbetaling van ’n verband waar hy berekeninge gemaak het wat toon dat as jy net R100 ’n maand meer afbetaal op ’n R400,000 lening verkort jy jou afbetalings periode met ses jaar. Hy het ook ander beginsels oor beleggings, hoe om eiendom te “gear” om jou fasiliteit en portefeulje te bou en hy het ’n groot invloed gehad op my denkwyse en patrone ten opsigte van die eiendomswêreld. Ten opsigte van podcasts en audio literatuur het ek, uit my persoonlike geloofsoortuiging, geluister na ’n skrywe van Craig Hill…

Ek ken hom goed. Hy het The Ancient Paths geskryf as ek dit nie mis het nie.

…ja, The Ancient Paths het baie waarhede vir my op ’n ander vlak maar hy het ook ’n reeks wat hy noem God’s Principles of Finance en dit is ook ’n reeks wat my sienswyse oor geld verander het, nie soseer oor besigheid nie, maar om ’n mens bietjie perspektief te gee. ’n Mens voel tog, en dit is my perspektief en nie noodwendig almal s’n nie – ons almal in besigheid werk om suksesvol te wees en om geld te maak.

Hy het my geleer dit is belangrik om geld te maak en ’n mens het geld nodig vir alles wat jy wil doen in die lewe, maar geld moet nie jou dryfveer wees nie, jou afgod wees nie want dit maak dat mense hul gesinne en hulself afskeep. Jy fokus op die verkeerde want jy kan uiteindelik sit met ’n gesonde banksaldo maar jy kan niks daarmee doen om ’n verskil te maak in ander mense se lewens of in jou eie gesin s’n nie. Jou kinders het dalk tyd van jou nodig in plaas van ’n nuwe speelding. Hy verduidelik aan jou hoe om wel die geld te hanteer en hoe om suksesvol te wees maar soos ek sê, uit ’n persoonlike oogpunt, wat nie miskien van toepassing is op almal nie, het dit vir my geleer om my perspektief oor rykdom te verander. Dit het vir my baie waarde gehad.

Dit is baie goeie advies en ek stem saam met jou. Die jaar toe ek bedank het, in 2007, en my eie ding begin het, het ek in Januarie van daai jaar in Suid-Afrika, Rich Dad Poor Dad the cash flow quadrant gelees. Baie van die filosofie en my manier van dink is nog baie deel van my en alles het dáár begin. Natuurlik, Craig Hill stem ek ook saam ten opsigte van geld.

Die eerste ding wat belangrik is, is dat geld in besigheid ten doel is om “score” te hou om te sien of jy ’n goeie diens lewer. In die eerste instansie is dit so, hoe meer geld jy maak, is ’n kompliment dat jy besig is om ’n uitstekende diens en produk te lewer maar ja, wat jy dan daarmee doen – is jy daar om ’n dam te wees en op te gaar soos hy sê, of is jy ’n rivier om die wêreld ’n beter plek te maak op die ou end.

  1. Wie is die persoon wat vir jou ’n rolmodel en inspirasie is en hoekom?

Ek moet eerlik wees en sê dat ek nie rêrig ’n persoon het wat ek só sien as ’n rolmodel of inspirasie sien nie. Ek het by baie mense, soos die twee skrywers, het ek inspirasie en leiding van gekry. Ek het ’n vriend wat baie na Clem Sunter, ’n ou hier in Suid-Afrika mos wat ’n motiveringspreker is en leiding gee, luister. Ek kan nie sê dat ek so ’n ou het wat ek aanhang deurlopend nie. Ek kry verskillende insette van verskillende mense en ek moet sê, ouens wat ek ook by leer en my inspireer is gewone ouens. Ek dink my kamermaat op universiteit het nogal vir my baie beteken. Hy het goeie rugby gespeel en toe moes hy in Kimberley gaan bly en daar het hy en ’n ander rugbyspeler begin eiendom ontwikkel so half op die kantlyn. Die manier wat hy sy ding gestruktureer het en gefokus het op die regte ding om die regte kwaliteit produk in die mark te sit was, en is, vir my ’n inspirasie.

Om te sien hoe ’n ou eerlik en reguit besigheid doen en hoe hy wel dan sukses behaal, sulke ouens is vir my ook inspirerend. Nee, ek kan nie vir jou ’n naam noem en vir jou sê dit is die ou wat ek nastreef nie. Ek is geseënd in die opsig dink ek dat ek by verskillende mense insette kry en wat impak op my lewe maak. ’n Ou wil ook nie ’n model bou altyd op een spesifieke resep nie. ’n Mens moet by verskillende mense insette kry om by jou spesifieke omstandighede in te pas.

Ek stem saam met jou, dit is daardie binnekring wat ek altyd na verwys, die “board you can’t afford”. Die vyf of ses ouens wat naby jou is, jou goed ken, verstaan jou en jy vertrou hulle en om daai insae te hê. Jy is reg – inspirasie is nie altyd Richard Branson nie – ek raak heel hopperig as hulle altyd wys na hierdie groot ouens. In die konteks van ’n kleinsakeman is hulle só vêr verwyderd in elk geval terwyl die werklike inspirasie is, soos jy sê, ’n kamermaat of die buurman en hoe hy sy besigheid bedryf. Soms soek ons te vêr, nè?

Moenie kyk na ouens soos Richard Branson, Warren Buffett of Bill Gates nie. Dit is die uitskieters. Ja, Bill Gates en al daai manne het ook in ’n garage begin maar nie almal wat ’n besigheid begin, gaan daardie hoogtes bereik nie. Nie almal het ’n produk wat Steve Jobs gehad het nie. Dus om te kyk na die biljoenêrs van die wêreld dink ek gaan jy jou fokus verloor. Jy gaan op die verkeerde goed fokus en jy gaan naderhand soveel soek na daardie geld dat jy alles mis langs die pad en jy gaan die hele tyd ontevrede wees met wat jy het want jy het nog nie dít nie! ’n Mens se lewe skiet by jou verby voor jy jou oë uitvee en dan is dit ’n probleem en voel jy soos ’n mislukking maar as jy jou vergelyk met die ouens rondom jou is jy eintlik ’n groot sukses en moet jy waardeer wat jy het.

Ek onthou ek het ’n boek gelees ’n ruk terug genaamd What I Learned at Harvard Business School deur ’n baie suksesvolle Britse joernalis. Hy was by een van die groot Britse koerante die redakteur in Parys, Frankryk gewees op daardie stadium en ook een van die oudste ouens wat Harvard toegelaat het om hulle M.B.A. program te doen. Ek dink hy was 32, wat ook interessant is dat dit geklassifiseer word as oud in Harvard M.B.A. terme. Hy beskryf toe wat gebeur het met betrekking tot die klasse en hoe Harvard te werk gaan. Die tipe mense wat daar was en die een ding wat vir my uitgestaan het, dat die wêreld verwys altyd na “omset”. Wat is die omset van jou besigheid? Maar omset maak nie saak nie pêl, het jy wins gemaak aan die einde van die maand?

Een van die vrae wat ek altyd mee geworstel het, was dat die manier hoe ’n besigheid “score” hou is finansieel en dit sê vir jou of jy goed doen of sleg doen. So vir my was dit op watter punt fokus jy op die geld as “scorekeeping” en dan in die proses verloor jy jou pad omdat jy die hele tyd so na die geld kyk want jy wil ’n R100 miljoen besigheid hê. Maar die wêreld is obsessed met ’n biljoen rand maatskappy al het dit vyftig miljoen verloor. Ek dink Eskom is dalk ’n klassieke voorbeeld van ’n groot maatskappy met sy omset. Ten spyte van sy omset, hoeveel wins het hy gemaak? Maar die wêreld meet omset en daarom gee hulle baie meriete en glorie aan die groot manne want – hy is ’n biljoenêr; hy is ’n miljoenêr; hy het honderd miljoen op Johannesburg se Effektebeurs gemaak.

Maar één ding wat hulle nié kan meet nie en dit is wat vir my diepgaande was, jy kan nie meet wat dit beteken om, soos jy netnou gesê het, te gaan kyk hoe jou laaitie rugby speel; om vyfuur huis toe te gaan en saam met jou familie te eet; om jou kinders te sien grootword. Die wêreld kan nie ’n prys dááraan koppel nie, daarom heg hulle nie waarde daaraan nie. Dit is nie kwantifiseerbaar nie, maar dit is seker dié waardevolste dinge wat daar is in die lewe.

Dit is hoekom ek van jou voorbeeld hou dat jy kyk na geld en goed maar wat die waardevolste is, is nie dít nie. Dit is die mense om jou, jou familie en jou vriende, jou gesondheid.

  1. Wat is jou gunsteling aanhaling?

Dit is ’n ding wat veral in dienslewering waarde het want ek dink dit is iets wat ek in al die vlakke van my besigheid en lewe kan deurtrek en dit is die Engelse gesegde wat sê, “under promise and over deliver.” As ek na die ander kant van die muntstuk kyk is dit as iemand vir my sê hy kom my drie uur sien en hy daag halfvier daar op. Dit gee al klaar vir my ’n negatief op sy vermoë om sy besigheid te bestuur. As hy nie sy tyd kan bestuur nie hoe gaan hy die res van sy produkte lewer?

In enige situasie waar hy kom, sal ek probeer om dit te doen en toe te pas. Ek sê eerder vir ’n ou ’n ding kos R10 en as ons klaar is sê ek “nee, weet jy ons het weggekom vir R8”, as wat ek vir hom die omgekeerde gee want logies, instinktief word mense ongelukkig daardeur. ’n Eenvoudige ding soos ’n epos “meneer, ek sal voor die sluit van môre vir jou ’n epos stuur”, dan verwag hy hom môremiddag vyfuur en wat ek dan doen, ek stuur dit môreoggend agtuur. Dit skep ’n positiewe persepsie by daai persoon wat vir jou van waarde in die toekoms is. Dit is rêrig iets wat ek regdeur probeer toepas. Dit is wat belangrik is in besigheid dat jy jou woord kan hou. As jy vir iemand sê jy gaan ’n ding doen dan moet jy dit kan doen en as jy dit nie kan doen nie, dan verduidelik jy vooraf of betyds hoekom jy nie kan nie of wanneer jy dit sal kan doen.

  1. Met alles wat jy nou weet, as jy môre kan oorbegin, watter tipe besigheid sou dit wees?

Ek dink nie ek sal iets verander het nie. Ek sal ’n paar dingetjies anders doen en natuurlik my foute probeer uitskakel maar ek dink met wat ek nou weet sal ek weer dieselfde doen. Vir my is die bevrediging om iets op te rig en mense gelukkig te maak deur goeie diens en dies meer, baie waardevol. Dus sal ek dieselfde weer doen, die ontwikkeling en die verhurings en ja, ek sal net graag wil leer uit my foute uit maar as jy nie ’n fout maak nie, kan jy nie leer nie of jy het nie probeer nie. ’n Mens moet die foute maar opslurp saam met die goeie van die besigheid en so word ’n mens beter.

Capalie, hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Epos:  [email protected]

Baie dankie vir jou tyd. Dit was lekker om met jou te gesels en sterkte met die besigheid.

Baie dankie dit was lekker om met jou ook te gesels.

Visited 255 times, 1 visit(s) today