Die Klipkouer met wie ek vandag gesels is Meyer le Roux, mede-stigter van Buffelsfontein Baard-olie. Ek het my geselsie met Meyer baie geniet hoofsaaklik omdat dit my heel eerste aangesig tot aangesig onderhoud was met ’n Klipkouer. Die ding wat vir veral uitstaan van Buffelsfontein Baard-olie en wat die handelsmerk baie fenomenaal maak is hoe hulle ’n bestaande produk soos baard-olie kon neem en heeltemal op sy kop gedraai het maar ook hoe die handelsmerk in ’n baie kort tydjie baie meer as net baard-olie verteenwoordig en meer ’n tipe lewenstyl verteenwoordig.  Dit stel hulle in stel om al hierdie addisionele produkte by te voeg en suksesvol te verkoop. Ek sien baie uit om meer te leer van die mede-klipkouer se manier van dink en doen.
Baie welkom, Meyer. Vertel ons so ’n bietjie meer oor jouself.
Dankie, Jacques. Ek is gebore in Pretoria en het in Hatfield grootgeword. Ek was in Seuns Hoër gewees, Affies. Ek het dit baie geniet en sal enige dag weer teruggaan maar nie as ’n onderwyser nie. Na matriek is ek na Londen toe vir so drie maande maar dit was vir my aaklig gewees. Ek hou nie van Londen nie en het die weer gehaat.
Is jy getroud? Is daar familie?
Die familie is ook in Pretoria en dan, natuurlik, is daar Buffelsfontein die familieplaas en al die familie is daar oor Kersfees en sulke tye.

So dit is die oorsprong van die naam? Dit is nie net ’n goeie bemarkingsfoefie nie?
Ja, dit is waar die naam Buffelsfontein Baard-olie vandaan kom. Dit is tussen Rustenburg en Zeerust en ons boer met sitrus.
Nou wat is die rede dat jy met hierdie tipe produk en konsep vorendag gekom het?
Ek en my vennoot Mark Eybers het besluit om baarde te groei en ek het toe ’n ander maatskappy se olie gekoop en ek het vir hom daarvan gegee want ons het vreeslik gejeuk op daardie stadium. Hy het niks daarvan gehou nie en besluit om sy eie te maak. Dit het toe ’n paar maande geneem om die regte resep te kry wat hy van gehou het. Hy het toe vir my ’n botteltjie daarvan gegee. Ek sê toe vir hom, “man dit is verskriklik lekker en dit werk beter en ruik beter as die ander ouens s’n. Kom ons sit dit op die internet en ons probeer dit verkoop. Ons mag dalk ’n paar Rand maak.”
Dit het toe nie vreeslik goed gegaan nie en ek sit toe een aand by Adam Tas se huis en hy het net ’n produksie maatskappy oopgemaak, Loopgraaf Produksies. Hy sê toe hy het hierdie spoggerige kamera, kom ons skiet ’n advertensie en toe is dit chaos! Na daardie advertensie het ons verskriklik baie olie verkoop en die week daarna het dit net al hoe meer geword.
Nou was daardie advertensie die een met die motorfiets?
Die heel eerste advertensie was die een met die gemonteerde buffel wat agter my staan, die horings, agter my en wat ek net in die kamera inpraat.
So dit was net impromptu en daar gaan julle toe?
Ek het ’n stukkie geskryf vir die webblad en daarmee in my kop het ek dit maar net gesê in die kamera in.
So van daardie oomblik af, hoe lank terug was dit?
Dit is seker so vyf of ses maande wat ons nou aan die gang is.
Nou hoe gaan julle te werk? Dit sluit nou mooi aan in terme van julle koop en verkoop bemarking strategie. Ek neem aan die video’s is ’n groot ding, Facebook as sosiale media bemarking. Hoe genereer julle nuwe besigheid?
Ek en Mark is baie gelukkig want ons sê heeltyd vir onsself dat ons is ons eie grootste kliënte want ons bemark aan onsself en as ons van ’n ding hou gaan dit ’n sukses wees. Dieselfde met die video’s ook. Ons sê daarin wat ons graag wil hoor en dit blyk dat die deursnit van ons kliënte hou daarvan. Op die oomblik is die groot bemarking medium die video’s en natuurlik doen Adam dit vir my verniet. Dit is ’n gróót plus!
So die een hand was die ander nè? Want julle het die sukses omdat die video’s suksesvol is.
Ja.
So doen Adam net die video’s of het hulle enige kreatiewe insette?
Nie in ons video’s nie, maar die video wat ons vir Ford gedoen het, het hulle baie kreatiewe insette gelewer en hulle doen nou baie goeie werk met dié produksie maatskappy ook. Ons kan darem sê ons was hul eerste groot kliënt al het ons nie betaal nie.
Gedurende die afgelope ses maande wat was die grootste besigheidsfout wat julle gemaak het?
Ek wil nie snaaks klink nie, maar ons het nog nie rêrig foute gemaak nie. Die enigste fout wat ons gemaak het, is dat die eerste week na die video uitgekom het, het ons nie genoeg botteltjies gehad nie. Ons het nie in ons wildste drome gedink dit gaan so gaan nie, maar ons bestel nou genoeg voorraad lank vooruit. Nee, ons het nie groot foute gemaak nie, maar wel klein goetertjies. Kyk, ek vertrou nie mense nie, seker maar een van my foute, en ek dink dit het ons nogal goed bedien want jy moet opvolg op mense, want hulle gaan nie vir jou ’n guns bewys nie.
’n Soort van “vêr van jou goed naby jou skade” tipe van ding.
Presies net so.
So jy praat daarvan dat jy nie mense maklik vertrou nie. Wat is jou grootste swakheid? Sou jy sĂŞ dit is dĂt, alhoewel dit nie noodwendig ’n swakheid is nie. Of wat is dit?
My grootste swakheid is dat ek geweldig sukkel om nee te sê vir ’n kuier. Ek sal wakker lê in die aande as ek ’n kuier gemis het. So dit is verseker my grootste swakheid.
Is dit nou jou rubber elmboog?
Dit is verseker my rubber arm wat agteroor kan buig.
Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?
Om op te staan vroeg in die oggend en te gaan oefen. Ek was so half geforseer om dit te doen ’n rukkie terug. Ons het die half-ysterman gedoen maar dit was meer vrees wat my uit die bed gedryf het maar as ’n mens net daai gewoonte kan aankweek begin die dag beter en voel jy beter maar ek het nie daai gewoonte nie, ongelukkig nie.
Ek wil nou sĂŞ dit sluit mooi aan van die grootste swakheid wat nie kan nee sĂŞ vir ’n kuier nie. Dit impliseer dus twee uur in die oggend bed toe gaan en…So die twee is mooi geĂŻntegreer.
Ja, dit is so.
Watter sagteware applikasie kan jy nie sonder klaarkom nie?
Ons het nou net begin om ons boekhouding op datum te kry en ons weet nog nie waarmee die persoon wat ons daarvoor gaan aanstel gemaklik gaan wees nie. Ons het dus nog nie daarop besluit nie, maar op die oomblik verseker, vir my, en ek dink nie baie mense weet daarvan nie, daar is ’n speltoetser in Afrikaans vir Word uit. My spelling is maar swak. Dié speltoetser vir Word, is verniet. Jy laai dit af en en sit dit op jou Word en dit gee selfs vir jou ’n wenk met jou sin konstruksie om dit reg te maak.
Regtig? Wat is die naam daarvan?
WSpel. Jy kan dit net gaan intik in Google, WSpel Afrikaans en jy sal daarby uitkom.
WSpel? Nouja, ek het dit nodig want ek sukkel, alhoewel ek verbeter het met die Afrikaans skryf maar veral in Engeland werk ’n mens in Engels en dit was ’n nagmerrie om te begin.
Ja kyk in Engels as jy twyfel is dit twee woorde maar in Afrikaans as jy twyfel is dit een woord maar dit lyk altyd vir my te lank. So dit is lekker om te gaan intik in Word en seker te weet dit is reg.
Jy het nou gepraat van ’n baie belangrike punt naamlik julle boekhouer en watter sagteware hy of sy mee gemaklik is en ek vind ook dat jou boekhouer of rekenmeester kies die sagteware. Wat belangrik is, solank dit net in die Wolk geberg is want ’n mens is bang dat iets gebeur en jy verloor jou inligting of jou rekenaar “crash”. In terme van jul verkope, hoe monitor julle dit?
Ons gebruik maar die die normale Excel Spreadsheet maar dit is nie genoeg nie en ons is ’n baie jong maatskappy en die hele ding het baie vinnig op ons afgekom. Dit is baie belangrik om jou sake in orde te hĂŞ en ons sal in die volgende paar maande, omdat ons nou iemand het wat ons help – want ek en my vennoot het al twee ’n “regte werk” wat ons elke dag moet doen – sal ons die dinge opskerp en baie meer aandag gee.
Dit maak sin want dit is belangrik want dit kan ’n mens ook terughou as ’n “startup”. Dit is interessant want ek dink terug toe ek my skoonmaak besigheid begin het. Die fout wat ek daai tyd gemaak het omdat ons klein was, te dink dat ek nie hoef geld te spandeer aan ’n “onnodigheid” nie en toe ek my oë uitvee so twee jaar later besef ek skielik ek raak agter. Jy begin blindvlieg in die besigheid as jy dit te lank los so dit is goed dat julle wegspring en dit reg doen.
Kyk jy sal ook weet, een van die grootste dinge wat ek vir iemand kan sê wat ’n eie besigheid begin is, “hou jou slippies”. Elke liewe een daarvan want jy dink dalk jy gaan nie groot genoeg word om BTW terug te eis nie, maar dit gebeur dalk. Dus, “hou jou slippies”.
Watter twee boeke sou jy aanbeveel?
Die een is Bill Bryson se boek The Short History of Nearly Everything wat hy begin by die oerknal en dit deurvat. Dit is die interessantste boek wat ek nog ooit in my lewe gelees het. Dit is ’n dinkboek en nie ’n storieboek nie, maar hy vertel dit op só ’n manier en dit is verskriklik interessant. Die ander boek, veral met die oog op besigheid is Richard Branson se Losing my Virginity. Die kern van sy boek is “kyk na jou mense en jou mense sal na jou kyk”. Hy sê jou grootste bron is nie jou kapitaal of jou produkte nie, dit is jou mense. So kyk na jou mense en stel die regte mense aan. Jy gaan altyd iemand hê wat jou verneuk maar doen jou beste om na jou mense te kyk en hulle sal dan waarskynlik hul beste doen om jou belange op die hart te dra.
Dit is baie waar en laat my dink aan – ek weet nie of jy onthou van Enron daar in Houston, Texas – so een maal per jaar is ek in Texas en dan ry ek altyd verby en soek hulle gebou want daardie massiewe gebou, eintlik twee geboue en hulle staan nog steeds leeg. Hoekom ek aan Enron dink is dat hulle daai ding van “jou werknemers is jou belangrikste bate” na ’n nuwe vlak toe gevat sodat, onder al die skelm goed wat hulle gedoen het, het hulle hul loon uitgawe nie as ’n uitgawe gedokumenteer nie, maar as ’n bate en dit in hul boeke gesit. Dit het dus hul winsgewendheid drasties verbeter en hul aandeelprys verhoog met “creative bookkeeping”.
Dit is ’n fantastiese idee, ’n goeie wenk.
Ek hoop nie iemand van SARS luister nie.
Nee, asseblief.
Is jy lief vir lees oor die algemeen?
Ek is lief vir lees en wil nie sê ek kry nie eintlik tyd nie, dit is maar net slapgat. Maar ek hou nie van ’n storie nie. Ek hou van ’n feiteboek soos ’n geskiedenis boek en soos die boek van Bill Bryson. Ek hou van feite. Ander mense se stories irriteer my bietjie maar ek dink dit is baie belangrik om te lees en niemand doen dit genoeg nie. Ek wens ek het meer gelees maar dit is seker ook een van my swakhede. ’n Mens moet tyd maak om te lees.
Dit is so. Ek is ook soos jy, baie lief vir my besigheidsboeke, inteendeel, die ouens sal vir my sê, lees ’n bietjie fiksie maar ek kan nie. Ek lees liewer ’n besigheidsboek want ek hou van daardie ware stories. Wat ek van hou is Amazon se “audible”. Kry julle dit in Suid-Afrika?
Ek twyfel maar ek het geen idee nie, want ek is ook mal daaroor om ’n boek te luister.
Ja, dit hoe ek daar verbykom. Ek luister die meeste boeke en selfs in die aand as ek in die bed lê en my oë is bietjie moeg na ’n lang dag voor die rekenaar, dan luister ek na die boek in my ore.
Ja, ek het heel toevallig die boek van Richard Branson het ek geluister. Ek het dit nie gelees nie.
So wie is die een persoon wat vir jou ’n rolmodel is en ’n inspirasie?
Jong nie net oor die baard nie, maar Christiaan de Wet, verseker. Wat hy reggekry het met Kitchener. Hy het Kitchener om sy pinkie gedraai en as Kitchener gedink het hy het De Wet vas, dan is hy los. Hier naby Silkaatsnek is hulle met ’n hele kommando met perde by ’n berg af wat Kitchener hulle afgesper het en gesê het De Wet sal nooit daar afgaan nie en solank ’n ruiter Pretoria toe gestuur om te sê, “ons het De Wet”. Toe hulle daar kom, toe is daar niemand.
Maar sy lewe ook, hy is ’n verskriklike interessante mens. Sy verraaier boetie wat hy in ’n stadium wou doodmaak maar dit gaan vir my meer oor die feite dat hy vir Kitchener so ’n harde tyd gegee het. Dit is vir my fantasties.
Generaal De Wet het mos loopgrawe uitgedink, nie? Iemand het vir my gesê dat die konsep van ’n loopgraaf wat in die 1ste Wêreld oorlog gebruik is, is De Wet se konsep van hoe om so ’n loopgraaf te maak en te gebruik.
Ek is nou nie seker nie, maar hy het ’n groot rol gespeel in guerilla oorlogvoering.
Dit is korrek. Hy is ook ’n pioneer van die guerilla oorlogvoering metode.
Ek weet nie van die loopgrawe nie, maar definitief ja, van guerilla oorlogvoering.
My peetpa, Jan Basson het al die jare in Bloemfontein gebly en as ons gaan kuier oor Kersfees dan het ons verby die standbeeld gery van Generaal Christiaan de Wet. Dan sit ek op my pa se skoot aan die passasierskant dan sal hy vir my sê, “Jacques, groet die Generaal.” Ek onthou dit altyd. Wat is jou gunsteling aanhaling?
Jong ek hoop ek sê dit reg, dit is ’n Duitse filosoof, Johann von Goethe wat gesê het: “A character of a man is determined by the way he treats those who can give him nothing in return.” Dit is vir my belangrik en as ons almal dit net kan nastreef sal dit baie beter gaan met ons mense. As jy ietsie gee sonder om altyd iets terug te verwag. Ongelukkig doen bitter min mense dit.
Dit is wat die Engelse noem “a scarcity mindset”. Jy moet vashou want jy weet nie wat more gaan gebeur nie, nè? Dit is mos maar vrees is dit nie?
Ja, dit is seker so maar die meeste mense wat ek ken kan ’n Rand afstaan elke maand en ek dink ’n mens moet dit doen en as jy mense moet dwing om dit te doen, doen dit. As jy op Facebook sit dat jy ’n braai gaan hou vir gestremde mense dan kry jy ’n ou wat sê, hy stel nie belang nie. Nouja, ek het nie ’n probleem daarmee om, indien nodig, ’n ou se oor ’n bietjie te draai daaroor nie.
Ek stem saam met jou en ’n tendens wat ek sien in Engeland wat één manier is om, veral deesdae, want daar is baie mense met geld wat geld wil gee, waar ons munisipaliteite in Engeland ’n “SROI” (Social Return On Investment) het. Dit is sodat mense wat gee weet waarvoor hulle geld gebruik word en vir mense kan wys waarvoor die geld gebruik is. Dit is belangrik en NGO’s daarbuite moet luister en besef dat mense wil sien wat is die resultaat van die geld wat hulle skenk. Die dae van bak handjie staan is verby.
Ja, ek is ook ’n groot voorstander om te weet waarheen gaan my geld. Dit is hoekom ons Solidariteit ondersteun want ek weet waarheen gaan my geld as ek geld skenk. Niemand daar ry rond met ‘n S-klas Mercedes nie. Dit gaan nie vir direkteursfooie en honorariums wat hulle uitbetaal sonder dat hulle waarde kry nie.
Met alles wat jy nou weet, as jy mĂ´re weer van vooraf moet begin?
Nee, ek kan rêrig nie dink nie. Ons het ’n fenomenale groei gehad. Ons ken nie die einde van ons geseëndheid nie. Ek het ook al oor die vraag gaan dink maar ek kan aan niks anders dink nie. Kyk as jy ’n besigheid kan hê waar jy die kliënt is en jy bemark jouself en jy werk met jou mense waarvan jy hou heeldag, dit is eintlik fantasties.
Vertel my bietjie van wat is in die pyplyn vorentoe? Ek verstaan waar die opgewondenheid vandaan kom waar julle begin het met die olie wat die fondasie is maar vertel verder wat daarop gevolg het?
Ons het nou begin om jag toebehore te voorsien soos ’n geweer belt en ons beplan om ’n geweersak uit te bring en dan, die groot ding wat gaan begin is die toere, Buffelsfontein toere. Ons is baie opgewonde daaroor en ek wil nie te veel daaroor uitlap nie, want dit is ’n konsep wat niemand in Suid-Afrika doen nie, maar ek glo dit gaan fantasties doen.
Die bier is klaar beskikbaar en ons bring ’n ander geur uit. Ons het eers die witbier uitgebring wat maar ’n “weissbier” is.
Dit is nou die Lewerolie?
Ja, dit is die Lewerolie witbier en die volgende een sal ’n “blonde ale” wees wat meer neig na ’n lager toe, verstaan ek. Dit is wat ons na mik. Dan is daar die klerereeks en dit sal seker binnekort beskikbaar wees. Die ouens maak dit van “scratch” af. Ons koop nie ’n hemp en sit dan ons etiket daarop nie, ons maak die hemp soos ons dit wil hê met ’n lekker ligte materiaal waarmee jy kan jag of werk op die plaas ensovoorts. So ons is baie opgewonde daaroor ook.
Dit klink na die funksionaliteit wat julle wil bemark?
Ja, weereens, ons bemark aan onsself. So as ek die ding vir ’n week gaan dra dan kan ek sien waar is die foute en dit regstel.
Meyer, baie dankie vir jou tyd. Dit is die eerste keer is wat ek van aangesig tot aangesig met ’n Klipkouer gesels. Ek staar diep in sy blou oë, sy baard is eg. Baie dankie vir jou tyd. Ek waardeer dit. Ek is ’n groot, groot aanhanger van Buffelsfontein Baard-olie en Buffelsfontein as ’n handelsmerk en baie sterkte vir die toekoms.
Baie dankie Jacques en sterkte vir jou ook en wat jĂ˝ doen, kan baie jong entrepreneurs help.
Kontak met Meyer en Mark: www.baard-olie.co.za
Epos: Â [email protected]