Len Fourie gesels oor die kragkrisis en onvoorsiene voordele wat dit vir sy firma gebied het
Die Klipkouer met wie ek gesels is Len Fourie, eienaar van stads- en streeksbeplanning firma, Macroplan wat gebaseer is in Upington. Wat veral vir my uitgestaan het in my gesprek met Len is hoe probleme in die ekonomie, byvoorbeeld, die kragkrisis wat deur Eskom gedryf word, tot onvoorsiene voordele vir sy firma gelei het en, weereens, hoe dit help om 'n passie te hê vir wat jy van Maandag tot Vrydag doen en dit help om sukses te behaal in jou beroep. – Jacques Basson
Len, baie welkom.
Dankie, Jacques.
Vertel ons 'n bietjie meer oor jouself.
Jacques ek bly in 'n dorp in die Noord-Kaap provinsie met die naam van Upington. Upington het 'n baie stelselmatige groei gehad die afgelope 20 tot 30 jaar en ek het hier grootgeword en het 'n geweldige passie vir die Noord-Kaap en die area gekry en toe die kans opkom om terug te kom in 1997, het ek dit aangegryp met albei hande. Op die stadium toe ek teruggekom het, was stadsbeplanning nie werklik so 'n groot rolspeler in ons area soos dit later sou word, veral die afgelope 15 jaar en ek het 'n goeie keuse gedoen om 'n ligging te kies vir die toekoms van my beroep wat goed uitgewerk het.
Ek is getroud met geen kinders maar wel drie honde kinders.
Ek is 'n stadsbeplanner van beroep en het in Bloemfontein studeer en my meestersgraad in stadsbeplanning afgehandel en onmiddellik begin werk as 'n student by die firma wat ek steeds by is, in 1995, en die 20 jaar wat verby is was 'n baie interessante 20 jaar waarvan ek die laaste 10 jaar self die besigheid moes hanteer en bestuur. Die grootste groei vir myself as mens sowel as 'n besigheidsmens het gedurende dié tydperk plaasgevind.
Dit is baie interessant en ek wil vir jou vra wat die rede is dat jy dié tipe besigheid en industrie aangepak het? Jy het nou reeds daaraan begin raak maar ek wil sommer 'n ander vraag daarby vra. Het jy enigsins voorsien dit wat, in terme van stads- en streeksbeplanning, gebeur het in die afgelope 15 jaar? Is die verwikkelinge enigsins wat jy kon voorsien het daardie tyd in 1997 toe jy die skuif gemaak het?
Jacques, geensins nie. Ek het die skuif gemaak bloot uit die feit dat as ons klaar studeer het, het ons 'n 2 tot 3 jaar termyn nodig om te werk onder 'n hoof-stadsbeplanner wat geregistreer is by die Raad. Ek het aanvanklik daardie tydperk gebruik as 'n goeie fase om in die platteland te begin want die plattelandse kleiner firmas bied vir jou 'n groter geleentheid om te funksioneer op alle vlakke van ons beroep. Wat ek bedoel is, jy sal nie net een tipe aansoek moet doen heeldag nie of sit en planne evalueer nie, maar jy gaan álles doen. Dit was dan my beweegrede op daardie stadium.
Om terug te kom – ek sal later meer praat oor presies wat gebeur het in ons beroep, veral die afgelope 10 jaar – ek het as kind al 'n passie gehad vir kaartwerk, enige vorm daarvan, enige boek wat te doen gehad het met kaarte sowel as die natuur en stede. Enige iets met stedelike ontwerp of paaie ontwerp het my gefassineer. En ek het geweet dat dít is wat ek wil doen en daarin gaan studeer min wete dat dit 'n beroep is wat soveel meer fasette het as wat meeste van die publiek ooit van bewus is.
Die laaste 10 jaar het ons, en jy sal seker weet, met die Eskom krisis het die groen faktor baie sterk na vore gekom en veral in die Noord-Kaap provinsie. Dit is 'n faktor wat ons totaal oorheers op hierdie stadium as stadsbeplanners wat hier werk, in die sin daarvan dat jy 'n baie belangrike rol speel in die groen energie sektor. Jy is 'n skakel in die legkaart om te sorg dat 'n windkragplaas of 'n sonkragplaas op die ou end daar staan. Die Departement Landbou en die munisipaliteit is daarvan deel en in die afhandeling van ons werk. Daarsonder, as jy nie die goedkeuring het nie, kan jy nie so 'n plaas begin nie. Dit is iets wat ek in 1997 nie eers geweet het bestaan of dat dit enigsins na vore sou kom in my beroep nie. Ek wil amper sê dit is seker die grootste en interessantste faktor wat ek heeltyd moes hanteer.
Jy het nou gepraat dat jy het vanaf kleintyd 'n liefde gehad vir kaarte en so aan en dit sluit goed aan by my tweede vraag, naamlik hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf? Baie van julle kliënte, soos ek aflei, is as gevolg van 'n wêreldtendens, die groen energie en so aan. Sal jy sê dit dryf die meeste besigheid op hierdie stadium?
Ja, om terug te kom na die besigheid self – 15 jaar terug was ons kliënte getal maklik 80% staat of munisipale komponente of tenders. Daardie syfer het verander na privaat gedrewe projekte, seker na 70% andersom. Met ander woorde, jou tradisionele staatswerk het baie minder geword in ons beroep terwyl ons privaat sektor werk baie meer geword het en dit is natuurlik vir die groei van 'n besigheid baie positief want jou privaat sektor kliënte is gewoonlik meer betroubare kliënte. Hulle is gewoonlik ouens wat ook in die beroep staan of wat verstaan terwyl staat en munisipale kliënte se betaal syfers nóóit dieselfde is as die van die privaat sektor nie.
Om terug te kom na jou verwysing na die groen energie sektor, ons werf kliënte letterlik deur "word of mouth". Jy sal nie glo hoe baie van ons groen energie sektor veral, lees skrywes asook dokumentasie wat óns opgestel het en dan publieke deelname prosesse bygesê. Dan kom hulle agter dat hier is 'n firma wat die proses verstaan, wat suksesse behaal het met projekte wat reeds op die grond is en so kom die ouens by ons uit. Jou tradisionele munisipaliteit wat die amptenaar vir 'n kliënt sê, "skakel vir Len Fourie om vir jou 'n hersonering te doen", is baie minder as die ouens wat kyk na wie is suksesvol en hul huiswerk doen en dan by ons uitkom is meer as wat bemarking ooit sou kon doen. So dit is baie interessant. Ek het al 'n klomp metodes van bemarking in die loop van die jare gebruik maar kom agter dat jou reputasie en jou kliënte en dit wat hulle van jou dink asook wat jy uitsit om te lees, vir jou die meeste waarde gee. Ja, ons doen Facebook bemarking en ondersteun waar ons kan maar dit is nie werklik waar ons kliënte vandaan kom nie, Jacques, eerlikwaar.
Jy praat van die privaat sektor wat so 'n belangrike deel tans speel in jul besigheid, hoeveel van daardie maatskappye is internasionaal of is dit alles plaaslike maatskappye?
Jacques dit is 'n moeilike een om so direk te antwoord weens die feit dat baie van jou internasionale maatskappye, die heel grotes sal, heel waarskynlik wanneer hulle in die land inkom, sal of 'n plaaslike projekbestuurder aanstel wat jy direk dan mee saamwerk of 'n bestaande Suid-Afrikaanse firma gebruik om deur te funksioneer. Jou groter maatskappye wat, byvoorbeeld, van Spanje afkom – ja, ons werk met hulle maar dit is in die minderheid. Dit kom voor asof die meerderheid van hulle dan deur Suid-Afrikaanse maatskappye die projekte verder neem. Ek dink wel dat die Italianers en die Spanjaarde het wel 'n groot rol gespeel in ons area maar omdat hulle die taal en kultuur moeilik verstaan moet hulle met 'n Suid-Afrikaanse firma skakel om die werk plaaslik reg te doen.
Jy kan jouself voorstel – eerstens is taal 'n groot uitdaging en om die kultuur, prosesse en wetgewing te verstaan is nie maklik nie. Dus praat meeste van ons kliënte wat vir die groot wind- of sonkrag plase werk, dikwels Afrikaans. Die projek bestuurder is gewoonlik iemand met 'n stadsbeplanning agtergrond omdat hulle die prosesse verstaan maar as 'n Suid-Afrikaner wat, heelwaarskynlik Afrikaans kan praat. Ek wil sê omtrent 50% van hulle kan of Afrikaans praat of daarin funksioneer omdat hulle op die plaaslike vlak, soos met 'n boer, kan onderhandel oor die koop van grond. Dit help nie jy kom daar met Engels aan nie. Die persoon moet met jou kan skakel en met jou gesels soos hy wil.
Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusvêr gemaak het.
Verseker om mense op hul woord te vertrou sonder dat dit in detail in 'n kontrak opgeskryf is. Jacques, dit was my héél grootste fout wat ek gemaak het en ook die meeste bloedneuse wat ek gekry het. Jy kom agter dat wanneer jy in die platteland funksioneer soos ons, of in 'n kleiner gemeenskap, dat mense mekaar nog vertrou sonder dat jy noodwendig 'n formele kontrak het. Die tien laaste jaar het ons beweeg van 'n klein wêreld besigheidsmodel na internasionale maatskappye na enige vorm van 'n persoon wat van buiteaf inkom en ons werk die hele Noord-Kaap en daar het ek my fout gemaak. Ek het gedink dat die idee waarmee jy grootgemaak is, die tipiese Afrikaner Calvinistiese opvoeding, is genoeg maar dit werk nie so nie. Jy moet jouself beskerm om elke hoek en draai en baie seker maak dat dit wat jy aanpak eerstens, 'n projek is wat gefaktureer en betaal kan word en tweedens, dat elke stap wat jy doen in jou veld of beroep begroot is van die kliënt se kant af en dat almal in hul sektor verstaan dat dit betaalbaar is op 'n sekere stadium. Dit gebeur by ons dat ons baie ure insit wat gefaktureer moet word en dat 'n kliënt net terugkom en sê jammer hy kan nie sien dat daar so baie tyd op dit spandeer kon word nie. Daarvoor moet jy begroot en dit op skrif stel.
So ja, baie geld verloor maar baie geleer daaruit. Dit sou ek sê was my grootste fout gewees.
Dit is 'n waardevolle les en ek wil by jou aansluit deur te sê dat dit is ook 'n fout wat ék in die verlede gemaak het. Ek het ook altyd geglo soos jy sê, die ou skool Afrikaner, my handskud is my eer en integriteit en iets werd. Ek dit altyd in my kop gehad dat as ek jou vra om iets op papier te sit dan kom dit voor of ek jou nie vertrou nie. Die oomblik as ons 'n kontrak moet optrek dan lyk dit of ek jou nie vertrou nie. Maar ek het agtergekom dat wat ek sê en wat jy hoor is anders as wat jy sê en wat ek hoor. Die enigste manier om dit uit te klaar is om dit op papier te sit om seker te maak ons sê al twee dieselfde ding. Dit is die vinnigste om enige misverstand te verwyder. So ek stem volkome met jou saam en ook om seker te maak dat die manne betaal en kom hulle deel van die transaksie na.
Ja-nee, ons het ons interne besigheidsmodel verander waar ons nou suiwer werk op fakture en die uitskryf van fakture met elke aanstelling en faset daarvan. Vyf jaar terug het ons goedertrou baiekeer aangegaan en vêr gevorder in 'n projek voor ons dit gedoen het maar soos ek sê, dit is goed wat jy leer met die tyd en jouself bloedneus hardloop teen glasdeure wat jy nie eers gesien het nie. Dan verander jy jou besigheidsmodel en jy kom agter dat jy nie daardie goedertrou kan deurvat nie, nooit nie. Ek dink nie dit is verby nie, maar ek dink 'n mens moet dit nie onnodig toets nie.
Wat is jou grootste swakheid?
In die besigheidswêreld is 'n swak gewoonte van my om te twyfel aan my eie vermoëns en dit wat ek kan produseer en keer op keer kom ek agter dat ons Suid-Afrikaners, tot 'n groot mate, kan wonderlike goed produseer. Ek dink ons is in die verlede te veel gesê ons is nie goed genoeg nie of ons twyfel aan onsself. Ek wil amper vir jou sê, dit is 'n swak eienskap, na my mening en dit is iets wat deurgaan deur elke murg en been van myself om gereeld te twyfel aan myself en nie te besef hoe goed kan ek eintlik wees nie. Miskien bewoord ek dit verkeerd maar dit is hoe ek dit sien.
Ek verstaan wat jy sê en ek dink in elke entrepreneur se avontuur – ek hou daarvan om dit 'n besigheidsavontuur te noem en as dit nie 'n avontuur is nie dan moet jy uitklim – aan die einde van die dag is daar 'n dun lyn tussen 'n gesonde, nederige, "wonder of ek kan" maar wat jou op jou tone hou wat goed is, versus jouself af te maak en te onderskat. Dit is 'n dun lyn en dit is moeilik om daardie balans te hou. Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?
Definitief om balans makliker te vind. Ek het 'n baie duur prys betaal in my lewe om te kom waar ek is vandag op 40, veral die laaste 10 jaar. Dit is 'n baie moeilike ding maar ek wens ek het meer balans gehad om te weet wanneer het jy genoeg gewerk, wanneer het jy te min gewerk. Gewoonlik, weereens jou werkure is baie langer in die privaat sektor as wat mense besef en dit is baie belangrik om balans te vind en dan te sê, "nee dit pas my nie", of, "hierdie sosiale byeenkoms pas my nie", of hierdie "besigheid afspraak pas my nie" en klaar.
So ja ek wens ek het daardie beter gewoonte gehad van balans en dan, natuurlik, wat daarmee saamgaan, om nee te sê.
Watter sagteware of applikasie kan jy nie sonder klaarkom nie, vir die besigheid of persoonlik?
Ek is baie lief vir my Iphone persoonlik en vir sake. Dit gee vir my baie goeie funksionaliteit oral waar ek gaan en het my nog min teleurgestel. Ongelukkig in ons tipe werk, het jy 'n redelike rekenaar nodig om ons tekenprogramme te hardloop en jou tekenprogramme gaan, na my mening, nooit kan funksioneer op 'n tablet of 'n kleiner omdat die grootte van jou skerm problematies is. Ek het vir myself 'n baie goeie ultra-wide Phillips skerm aangeskaf omdat ek vir jare gesukkel het om tussen tekenprogramme en Excel Spreadsheets alles te hanteer. As jy in ons kantore instap sal jy sien dat elke stadsbeplanner sit met 'n massiewe skerm voor hulle. Dit is iets wat ek voel eenvoudig nodig is en dit help ons om beter te sien, te verstaan, te interpreteer en om jou kombinasie van lugfoto's, kontoere en alles op te sit en in perspektief te sien en nie foute te mis nie.
Op 'n persoonlike vlak is ek mal oor enige vorm van weer webblaaie, die hele wêreld vol. Dit is 'n persoonlike fassinering wat ek het en ek volg weerpatrone reg rondom die wêreld soos ek gaan en daarom is my Iphone belangrik want ek wil altyd sien of daar nie iets is wat ek mis of dalk moontlik moes gaan kyk het nie. Dit is persoonlik en het nie veel met my werk te doen nie.
Jy sal dan baie gerieflik voel in Engeland wat dit is iets waaroor die hele Engeland obsessief is oor hoe lyk die weer môre en ja, nege uit tien keer is dit nie goed nie. Is daar 'n boek wat jy sou aanbeveel as 'n móét lees?
Jacques, ek het in my lewe nog min boeke gelees wat my lewe totaal verander het. Ek gaan terugkom na hoe ek gekom het waar ek vandag is om aan jou te verduidelik wat my gefassineer het as kind. Ek sou, as kind, ure en nou nog ure sit en kaarte bestudeer eerder as om 'n spesifieke boek te lees. Dit het gemaak dat ek 'n geweldige groot interpretasie kan doen van kaarte of gedeeltes van die wêreld omdat ek as kind so baie atlasse gesit en lees het en die boek wat seker vir my die grootste verandering in my lewe gebring het, was 'n gewone skoolatlas wat ek aan vasgeklou het. Ek het nou die dag gesit en dink hoe ongelooflik dit vir my was wanneer ons aardrykskunde gehad het, kon ek nie ophou leer nie, want dit was só maklik vir my. Jy sit met jou passie voor jou en verstaan alles. Dit is wat so belangrik is in opvoeding dat jy kán iets uitlewe wat absoluut jou passie is en dit is wat 'n gewone skoolatlas vir my gegee het, iets wat miskien een uit honderd kinders van sou gehou het.
Wie is die persoon wat vir jou 'n rolmodel of inspirasie is en hoekom?
Ek is nie 'n aanhanger van mense nie en ek het nie werklik enige internasionale ster of enige persoon wat ek aanhang nie, want ek glo ek moet 'n persoon ken om te sien waaruit bestaan die persoon as geheel. 'n Vriend van my sal ek uitsonder en ons is al 20 jaar vriende. Sy naam is Arno Koch. Hy beweeg glad nie in dieselfde wêreld as ek nie, maar hy was vir lank my ouditeur. Ek het gesien hoe hy enige uitdaging wat sy padlangs kom, kan deurkom en sy geloof wat hom ondersteun. Hy is uiteindelik gediagnoseer met MS op 35 en dit het 'n enorme impak op sy lewe elke dag maar hy gee nooit moed op nie. Hy het nog nooit dat die siekte of die uitdagings daarom of die slegte oomblikke van sy lewe hom één oomblik negatief beïnvloed nie en sy geloof is en was tot nou toe 'n absolute inspirasie. As mens, as ek moet gaan vir raad ten opsigte van my besigheid of selfs met my geloof, is hy een van dié mense na wie toe ek sal gaan. Ek kan sy woord vertrou en dit kom nie om homself te bevoordeel nie, maar suiwer om vir mý in die situasie goeie raad te gee. Sulke mense is baie skaars in die lewe en dus is hy vir my 'n groot inspirasie en rolmodel.
Wat is jou gunsteling aanhaling?
Ek het twintig jaar gelede met 'n ding begin wat ek aanpas soos die lewe verander en dit is om te sê, "die lewe is te kort". Op hierdie stadium dink ek die lewe is te kort vir suurgesigte en suur mense, slegte wyn en lelike wynglase.
Dit is baie goed (lag). Jy moet dit nou net "coin" as joune, as Len Fourie.
Ja, ek het dit in my lewe baie aangepas en my vrou, Elmanda kan verskriklik vir my lag as ek dit verander weer na 'n volgende situasie toe en sê, "die lewe is nóú te kort vir híérdie!" 'n Mens is 'n baie kort tydjie op hierdie aarde en 'n mens moet maar net elke dag vorentoe kyk en toelaat dat enige situasie jou onderkry nie alhoewel daar baie situasies kom.
Met alles wat jy nou weet en as jy more weer moet oorbegin – ek vermoed wat jou antwoord is, Len – watse tipe besigheid sou dit wees?
Ek is van daardie rare mense wat presies gekry het wat hulle wou gedoen het en elke dag kan opstaan en sy passie uitlewe. As ek dit kan oordoen sal ek presies dieselfde doen. Al verskil wat ek sou maak is, ek sal as ek op universiteit was langer tyd bestee het en ook argitektuur as 'n kombinasie gedoen het want dit sou 'n baie goeie uitvloeisel vir my vandag gewees het. Daardie kombinasie is eintlik die enigste deel wat ek sou oordoen.
Vir die res – ek dink elke les en kopstamp was nodig vir die kennis wat ek vandag het en die mens en besigheid persoon wat 'n mens is die dag as jy 40 slaan. Heel waarskynlik, as ons oor tien jaar weer hierdie gesprek het, sal ek moontlik vir jou sê, ek het die laaste tien jaar drie keer soveel geleer as in die eerste tien jaar van besigheid.
Ja, Len ek stem saam met jou. 'n Mens kan in elk geval nie veel verander nie, maar dit is belangrik om vorentoe te beweeg en groei en soos jy sê, terug te wys oor tien jaar en weet ek is slimmer as wat ek was. Ek dink dit is die belangrikste. Die res maak nie saak nie. Ek dink altyd aan die voorbeeld van 'n haai wat as hy nie swem nie, doodgaan. Ek glo dat jy moet aanhou swem en vorentoe beweeg anders gaan jy dood. Dit is so met alles in die lewe. Jy groei of jy gaan dood, daar is nie 'n tussenin nie.
Dit is baie waar en iets wat ek ook geleer het, is die oomblikke in die lewe is ook daar om soms net te gaan stilstaan en te besef, dit was goed, dit was reg, dit het goed uitgedraai en nou pak ek die volgende ding aan. As jy op jou louere rus en in die verlede met die foute daarvan leef, gaan jy letterlik dood soos jy sê en is jy dan te bang om weer iets aan te pak. Dit is baie negatief persoonlik en in die besigheidswêreld.
Jy raak 'n belangrike punt daar aan naamlik om te stop en die oorwinnings te vier. Dit is 'n fout wat ek maak. 'n Mens stel 'n doelwit en dan hardloop jy so vinnig verby die ding – ek het al 'n paar keer so vinnig verby die doel gehardloop dan is ek al op pad na doelwit nommer twee toe en dan is ek só onvergenoegd en kan dan nie verstaan hoekom ek nie vorentoe beweeg nie, maar ek het nooit gestop om die eerste wen en doelwit wat behaal is, net 'n bietjie te vier nie. Die "wat het gewerk, wat het nie gewerk nie" maar die belangrikste nog, die klop op die skouer vir jouself wat sê, "goeie job, pêl".
Ja, dit is so. Die vriend wat ek vroeër aangehaal het, is iets wat ek by hom geleer het dat hy vir my sê, "Len, geniet die oomblik, staan terug, sien waarvandaan jy kom." Dit is iets wat ek in glo, om nóóit te vergeet waarvandaan jy kom nie. Sukses kan 'n mens soms baie sleg beïnvloed op die lang duur. Jy moet nooit vergeet waar jy begin het nie. Nie dat jy noodwendig daardie persoon hoef te wees nie, maar jy moet onthou waar is jou wortels en wie jou gedra het in die begin en altyd dankbaar wees daarvoor.
Baie dankie, Len en alles van die beste vir die toekoms.
Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?
Macroplan het 'n Facebookblad en jy kan daar ingaan en net 'n boodskap stuur en kan daardeur kontak maak. Jy sal by my uitkom.
My e-posadres: macroplan@mweb.co.za