Jean Pierre Verster gesels oor sy beleggingsproses en die geskiedenis van Tencent

Soos baie van julle weet, is Jean Pierre Verster een van die mees bekende en beste fondsbestuurders in Suid Afrika. Enige iemand met ń belangstelling in aandele kan iets van waarde by hom leer. Gewoonlik is BizNews 360 ń potgooi, maar tegniese probleme het ongelukkig veroorsaak dat ons klankkwaliteit net nie goed genoeg was om hierdie gesprek in klankformaat aan te bied nie. Die gesprek met Jean Pierre was egter só interessant dat ek besluit het om my vingers ń bietjie tikwerk te laat doen. Natuurlik raak baie van die nuances van ń gesprek verlore, maar in hierdie geval was iéts definitief beter as niks nie.

Tencent
The Tencent logo at the company’s headquarters in Shenzhen, China, on Saturday, March 20, 2021. Photographer: Qilai Shen/Bloomberg

Charl: Vandag gesels ons met Jean Pierre Verster oor die geskiedenis en besigheidsmodel van Tencent, asook sy beleggingsproses. Jean Pierre is besturende direkteur van Protea Capital Management, ń verskansingsfonds gebaseer in Suid Afrika. Welkom Jean Pierre.

Jean Pierre: Dankie, goed om met jou te gesels Charl.

Tencent is een van dié beste beleggings wat nog ooít gemaak is deur enige maatskappy. Hoe belangrik is Tencent vir die welvaart van Suid-Afrikaanste pensioenarisse en die wat nog ń pensioen gaan trek?

Charl, dis seker díe enkel belangrikste bate waaraan enige Suid Afrikaner blootstelling het. Vir meeste pensioenfondse is dit hul enkele grootste aandeelhouding en baie Suid Afrikaners het ook in hulle eie hoedanigheid belê en besit tien teen een Naspers, wat dan ń goeie twintig jaar terug ń aandeel gekoop het in Tencent, en as gevolg van die groei in waarde van Tencent het elke pensionaris en aandeelhouer in Naspers wonderlike opbrengste verdien. As dit níe was vir Koos Bekker wat twintig jaar terug belé het in Tencent nie, was ons almal báie armer.

Kan jy vir ons ń idee gee van hoeveel geld hierdie omtrent is? Hoeveel van elke Rand in ons pensioene is aan Tencent gewy?

Vir meeste pensioenfondse kan dit wees tussen vyf en tien persent van daardie pensioenfonds, en as mens van die ander kant af kyk – hoe groot Naspers is as ń maatskappy – praat ons van honderde miljarde Rande. Inderdaad, een duisend vyfhonderd miljard Rand! En onthou, dit is nie die hele Tencent nie, dit is rofweg dertig persent van Tencent. As men twintig jaar teruggaan na waarheen ek voorheen verwys het, het Napsers iets soos dertig miljoen dollar belê in Tencent, en alhoewel hulle ook bietjie verwater het met tyd, is daardie dertig miljoen dollar nou ʼn paar biljoen dollar werd. So ons praat van meer as ʼn duísend keer wat die waarde van hierdie belegging gestyg het die afgerlope twintig jaar.

Ongelooflik, dit klink amper soos Bitcoin. Hoe het ń Suid Afrikaanse drukkers-media maatskappy vroeg in die vroeë tweeduissends – waar die internet nog nie so groot was nie -hierdie klein opkomende Chinese internet maatskappy opgespoor?

So, ek dink nie Koos Bekker het al ooit vertel hoe dit gebeur het nie, so ek weet self nie  hoe hy in kontak gekom het met Pony Ma (stigter van Tencent) nie. Wat ons wél weet is dat Pony Ma hierdie baie skerp ses en twintig jarige was wat in China gebore is in die negentien sewentigs sy eie maatskappy wou stig en in tegnologie ingaan. Hy het begin met Tencent, en sy plan was om iets soortgelyk te begin wat hy gesien het werk in ander dele van die wêreld. En so het hy afgekom op die rekenaarprogram ICQ, wat besit was deur AOL (America Online) in Amerika, ʼn groot internet diensverskaffer. Hierdie programmatrie – ICQ – het mense toegelaat om vinnig met mekaar te kon kommunikeer soos wat ons deesdae doen op Whatsapp. Pony het toe ICQ aangepas vir die Chinese kultuur en dit QQ genoem. So QQ is basies die Chinese ekwiwalent van ICQ. ʼn Paar jaar later het hy nog geld nodig gehad om hierdie QQ diens uit te bou. Dit is toe dat hy vir beleggers in Tencent gesoek het, want hulle het nog glad nie geld gemaak nie – geen winste nie. En dít is waar sy paaie gekruis het met Koos Bekker. Maar ek sal self by Koos graag eendag wil hoor presies hoe hy met Pony Ma te doen gekry het en besluit het om te belê, want op daardie stadium – soos jy sê – was Naspers hierdie media maatskappy, gesetel in Suid Afrika, meestal gegrond in koerante en ander gedrukte media. Hulle het wel ook ʼn goeie besigheid gehad in M-NET, ʼn sataliet-gebaseerde subskripsie TV diens, maar daar was glad nie sprake daarvan dat hulle regtig in China veel sou doen nie. Hulle het eintlik begin belê in internasionale betaal-televisie waaraan hulle toe later aan ontrek het, maar dis baie interessant dat Koos besluit het dat hy moet inkoop in hierdie klein maatskappy – hierdie verliesmakende maatskappy – in China.

Wat het toe gebeur? Hoeveel persent van die maatskappy het hulle toe daardie tyd gekoop, weet jy?

Hulle het aanvanklik veertig persent gekoop maar dit het oor tyd verwater soos wat ander beleggers ingekoop het. En vandag, na die verkoop van ʼn verdere twee present, besit hulle net onder dertig persent van Tencent. Maar die interessante ding in terme van wat toe gebeur het is dat QQ toe die dominante platform geword in China vir mense om met mekaar op die ou-tegnologie selfone te komminikeer. En Tencent het deur…

En op gewone rekenaars?

En op gewone rekenaars

Want hoe ek die storie gehoor het – ek weet nie of dit waar is nie – is dat baie min mense daardie tyd “PC’s” gehad het en dat hulle dan na internetkafees toe gegaan he om op rekenaars te speel en te werk? Is dit so? En toe later het hulle na slimfone toe beweeg. 

Absoluut. Maar jy is honderd persent reg Charl. So ek het ʼn stappie vooruit geneem; eers was dit deur middel van ʼn rekenaarprogram waarmee mense met mekaar gekommunikeer het, maar soos jy tereg sê, was dit oorspronklik via internetkafees waar jongmense veral heen gegaan het om speletjies te speel. Later aan, toe ʼn groter deel van die Chinese bevolking selfone kry, het hulle QQ aangepas om te werk deur middel van selfone, maar nog die ou selfone, en dit het toe die dominante platform geword in China vir mense om te kommunikeer, of dit nou via rekenaar was of via ʼn ou tegnologie selfoon. Tencent het gedurende sy verlede deur ʼn paar permutasies gegaan waar hy baie goed aangepas het, en dit is vir my die kern, die kompiterende voordeel van Tencent – hoe goed en vinnig hulle kan aanpas. Een van die aanpassings wat hulle moes maak was toe mense nie meer internet kafees besoek het nie en nie meer die ou tegnolgie selfone gebruik het nie, maar begin het om nuwe tegnologie selfone aan te koop – ‘Smart phones’ soos wat mens dit noem. Die risiko was toe daar dat QQ nie meer gebruik gaan word nie, en Tencent het toe aangepas deur ʼn nuwe program daar te stel met die naam Waichin, wat ons in die Westerse wêreld ken as Wechat. Dit het beteken dat hulle op ʼn suksesvolle wyse  daardie kliënte wat op die QQ platform was oorgebring het na die Waichin platform, maar nogsteeds die dominante speler gebly het.

Jy het genoem dat Tencent se kompeterende voordeel is dat hulle kan aanpas, en dat hulle hulle kliënte baie suksesvol kon migreer van QQ af na WeChat toe. Wat dink jy is die rede vir hulle merkwaardige aanpassingvermoë?

Wel, hulle was geforseer om aan te pas want die tegnologie het verander en die platform het verander vanaf rekenaars na slimfone toe. Daar is nie ʼn resep as so iets gebeur nie; baie besighede lyk dominant maar dan gebeur tegnologiese verandering en dan ewe skielik verloor hulle hulle kompeterende voordeel, terwyl Tencent dit suksesvol gedoen het. Maar, dit was nie die enigste keer wat hulle moes aanpas nie. Waichin was oorspronklik nét ń kletsprogram, soos QQ, maar toe selfone al hoe slimmer geraak het het hulle al hoe meer voordele en funksionaliteit ingebou in Waichin, soveel so dat Waichin later ʼn bedryfsisteem op sy eie geword het. Ons in die Westerse wereld kan vergelyk met Android of Apple se IOS, die twee tipiese bedryfsstelsels op ʼn selfoon. Maar in China is Waichin die dominante bedryfstelsel, en ʼn klomp programme wat ons vandag ken as afsonderlik, soos byvoorbeel Spotify vir jou musiek of Google as ʼn soek-enjin, of Samsung Pay of Apple Pay om te betaal, het Tencent as een gebondel in hulle Waichin platform. Hulle het seker gemaak al die funksionaliteit is deel van hierdie bedryfstelsel – hierdie ekosisteem – en so het hulle ʼn baie dominante posisie gekry in die slimfoonmark. So, elke keer as daar n risiko van tegnologiese ontwringting is, het Tencent daarin ʼn geleentheid gesien en dit reggekry om mense te migreer na hulle nuwe platform, waar hulle  selfs ʼn meer dominante posisie gehad het.

Dis baie interessant. So sê nou maar jy koop ʼn iPhone in China, en jy skakel dit nou aan, wat gebeur dan?  Wat sal jy sien?

Jean Pierre: ʼn iPhone in China sal nogsteeds die IOS bedryfstelsel hê, maar die oomblik as jy by jou voordeur uitstap en jy wil iets koop in ‘n winkel, of jy wil ʼn taxi bestel, of jy wil met jou familie praat waar hulle ookal is, dan is die eerste ding wat jy gaan doen is om Waichin af te laai. Waichin gaan “bo-op” jou IOS hardloop en gaan eintlik effektief jou bedryfstelsel word, en dit is wat Tencent so manjifiek maak. Dat hulle mense op twee geleenthede kon oorreed om eers van niks af na te QQ beweeg, en toe weer van QQ na Waichin toe.

Ons weet dat Tencent die grootste speler in die wêreldwye e-speletjie mark is. Hoe het hulle in dié mark ingekom?

Tencent het van hulle kleiner speletjies self ontwikkel, maar het vining gesien dat hulle eintlik moet inkoop in wat genoem word speletjie “studios” om regtig ʼn aandeel te hê in die beste speletjies en dan het hulle die speletjies op hulle platform aangebied.  Mense spandeer dan geld, nie om die speletjie te koop nie, want die speletjie is gewoonlik verniet, maar binne in die speletjie om hulle karakters sekere einskappe te gee, byvoorbeeld om vir hulle mooi klere digitaal aan te trek of sulke tipe goed. Tencent het toe ingekoop op veral een baie belangrike speletjie studio met die naam van Epic Games – bekend vir ‘Honour of Kings’. Dis het ń baie groot speletjie vir Tencent geword en hulle vroeg lat besef dat hulle vir toekomstige sukses nie net in China kon belê nie.

China is baie soos Suid Afrika in die opsig dat hulle baie buitelandse beheermaatreëls het op valuta, so Tencent was ook een van die vroeë Chinese maatskappye wat gebruik gemaak het van wat hulle noem ʼn ‘variable interest entity’ of ʼn veranderende balang entiteit. Dis tegnies ʼn maatskappy wat gesetel is in die Cayman eilande, maar daardie entiteit besit nie eintlik Tencent nie, dit het net ʼn kontrak met Tencent, wat ʼn Chinese maatskappy is, wat die maatskappy in die Cayman eilande die reg gee op die winste van die Chinese maatskappy. Maar, toe hulle ʼn maatskappy buite China besit het – buite die valuata-beheer maatreëls van China – kon hulle toe aandele koop in buitelandse maatskappye, soos Epic Games, en later van maatskappye soos Tesla, Spotify en Snap. Dit is waar ons vandag is en is nog n kompeterende voordeel vir die hulle.

As gevolg van die feit dat hulle omtrent ʼn biljoen mense op hulle WeChat super-app het, en kan sien wat mense en besighede wat van WeChat as ʼn platform gebruik maak doen, kon hulle toe slim beleggings maak in die maatskappye. Kan jy ons bietjie meer hiervan vertel?

Soos wat ek genoem het – dat hulle sekere aandele gekoop het in buitelandse tegnologie maatskappye, het hulle dieselfde gedoen in China. Hulle het ʼn klomp aandele gekoop in opkomende tegnologie maatskappye soos Meituan Dianping, Pin Duo Duo, en JD.com. Wat belangrik is, is dat hulle kon sien watter van hiedie opkomende tegnologie maatskappye veld wen, want Tencent, was soos jy gesê het die “super-app” of die bedrystelsel is kon sien watter ander toepassings die meeste afgelaai en ondersteun word, en hulle kon toe op ʼn baie vroeë stadium in hierdie maatskappye incoop, terwy hulle, soos Tencent aan die begin, ook verliesmakend was en kapitaal nodig gehad het. Die oomblik as Tencent dan ingekoop het in daardie ander maatskappye, daardie derde-party maatskappye, dan het Tencent ook seker gemaak dat daardie maatskappye kry effens van ʼn voorsprong, of ʼn voorkeur op hulle platform. Hulle maak seker die maatdskappye waarin Tencent ʼn belang het word die wenners, en vandag is Meituan Dianping byvoorbeeld die derde grootste tegnologie maatskappy in China met die hulp van Tencent.

Wat doen Meituan Dianping?

Mens kan hulle amper noem die Uber en Uber Eats van China. Hulle het begin as ʼn “copy-cat” van iets wat hulle in die Weste gesien het – in hierdie geval Uber en Uber Eats – maar later aan het hulle amper enige diens wat jy wil hê iemand jou mee moet help, of dit nou die aflewering is van kos, of jou eie vervoer as jy ʼn taxi wil bestel, of die koerier van dokumente, of die aflewering van medisyne, het Meituan Dianping later by betrokke geraak. En hulle is nou die dominante platform in hierdie “aflyn” dienste wat aangebied word via slimfone. Dit is ongellooflik as mens kyk na die tipe groei wat Meituan Dianping die afgelope paar jaar ervaar het.

Hoe groot is Tencent se aandeel in Meituan?

Ek kan nou nie die nuutste syfers onthou nie. As ek kan reg kan onthou is dit is rofweg dertig persent op ʼn stadium gewees, voor hulle verwater is, maar ek is nie seker wat die nuutste is nie. Maar die interessante feit is dat daar nog n groot aandeelhouer in Meituan Dianping,  is, nl. Alibaba. So, Alibaba is die groot teenstander of mededinger van Tencent in China, en in verskeie areas van besigheid kom hierdie twee groot reuse in direkte kompetisie met mekaar. In die geval van Meituan Dianping was daar eintlik twee maatskappye, Meituan en Dianping, en die een was beheer deur Tencent en die ander een deur Alibaba. Hierdie twee het die twee dominante platforms geword vir hierdie tipe van aflewringsdienste. Later aan het hulle saamgesmelt. Dis baie interessant, want mens sien ʼn paar gevalle waar vanuit kompetitise  ʼn samesmelting plaasvind en dan ʼn dominante platform vorm, terwyl in ander gevalle Tencent en Alibaba aanhou kompeteer het, soos byvoorbeeld in betalings. Alibaba het die dominanate betalingssisteem gehad, wat beheer word deur hulle sustermaatskappy, Ant Financial, en dis Alipay, terwyl op ʼn baie latere stadium het Tencent Tenpay begin, en vandag is Tenpay een van die dominante platforms, en in sekere gevalle selfs meer dominant, of groter, as Alipay. Dit wys net hoe daardie ekosisteem, die platform wat so sterk is, hulle addisionele dienste, soos betalingsdienste,  op die Waichin platform aanbied, en baie vinnig deur die ekonomiese voordeel van die platform die dominante platform met daardie nuwe diens word.

Hoe sou jy Alibaba an Tencent kontrasteer?

Tencent en Aliababa is albei rofweg vyfhonderd biljoen Dollar in markkapitalisasie, so dit is twee enorme maatskappye, van die grootste in die wêreld, en waar hulle duidelik verskil is dat Alibaba met aanlyn verkope begin het. Op die Alibaba platforms – T-Mall en Taubau – verkoop hulle van hulle eie produkte, maar dis ook ʼn ekosisteem, waar enigiemand enige produk kan aanbied, bemark, en verkoop. Dit beteken as jy enige iets wil koop dan word jy ʼn kliënt van Alibaba.

So dit klink vir my asof Alibaba ʼn tipe van ʼn Amazon is, is dit reg?

Ja, soos Amazon, en soos wat Amazon vandag is waar as jy iets koop is dit nie noodwendig Amazon wat dit aan jou verkoop nie. Met ander woorde, Amazon is ook ʼn platform van derdeparty verkopers.  Die naaste  tipe maatskappy aan Alibaba in die Westerse wêreld is seker Amazon. Tencent het begin as ʼn sosiale platform, so mens kan amper sê soos Facebook, maar ook nie heeltemal nie, want dit is nie net geskoei op sosiale interaksies nie, hulle het toe ook later begin met kommersiële interaksies.  Dit is die grootste verskil tussen die twee. En waar hulle direk teen mekaar te staan kom is in hierdie aanlyn-tot-aflyn dienste – soos wat Meituan aanbied – asook wat mens noem die “cloud” en “data offerings”, en ʼn klomp ander dinge. Hoe meer albei partye betrokke raak by alhoemeer tegnologie is daar alhoemeer veld waar hulle direk teen mekaar kompeteer.

Ek het onlangs gehoor van nog ʼn interessante maatskappy waarin Tencent belê het, Pin Duo Duo. Wat doen hulle?

Pin Duo Duo is nog ʼn opkomende tegnologie platform in China, waar al hoe meer Chinese verbruikers hulle gebruik om hulle aankope te doen eerder as JD.com en Alibaba se T-mall. Dit het ʼn groot sosiale aspek ook, daar is ʼn groot groep-aankoop aspek, so baie keer as jy as ʼn groep items koop dan kry jy afslag, en Pin Dua Duo is baie goed daarmee om vir mesne afslag aan te bied as hulle in grootmaat aankoop. Waar Tencent inkom is dat hulle baie gou gesien het dat Pin Duo Dua baie sterk ondersteuning kry, en hulle het ingekoop in Pin Duo Duo, en op hulle platforms die voorkeur derdeparty toepassing gemaak vir sulke tipe van dienste. Vandag is Pin Duo Duo in sy eie reg ń dominante platform in China.

Om terug te kom na Tencent se belangrikheid vir ons pensioene; watter risiko’s is daar vir Tencent as ń besigheid maar dan ook wat se risikos is daar in die verhouding tussen Tencent en Naspers?

Die afgelope paar maande is dit duidelik dat die Chinese regering al hoe meer sensitief raak vir wat hulle sien as monopolieë, en spesifiek hierdie dominante tegnologiemaatskappye soos Alibaba, Ant Financial, Meituan Dianping en Tencent. So, een van die groot risiko’s vir Tencent is baie strenger regulasies. Ek sou tóg sê hulle is reeds dominant, so ek sien dit eintlik as ʼn kleiner risiko vandag as wat dit kon wees op enige stadium in die verlede toe hulle besig was om hierdie dominante platforms uit te brei.

Verder is daar altyd die politiese risiko van China teenoor die VSA. Die VSA het byvoorbeeld kapsie gemaak oor Bytedance – die houermaatskappy van TikTok – om te sê dat hulle, as ń Chinese maatskappy, te veel inligting kry van Amerikaners en dat hulle eintlik TikTok moet verkoop aan ń Amerikaanse koper. Daar is ook altyd die risiko dat ander lande ook nie hou van Tencent wat so baie data besit oor hulle mense nie, want hoe meer mense van die Tencent produkte gebruik maak hoe meer data het Tencent, nie net oor Chinese nie, maar oor verbruikers reg oor die wereld. So dit is nog ń risiko.

In terme van die risiko tussen Tencent en Naspers; baie mense is bekommerd oor die ‘variable interest entity’ struktuur waarin die Tencent-Naspers verhouding geformaliseer is – die feit dat Naspers nie eintlik direk aandele besit in die Chinese maatskappy waarin Tencent gesetel is nie – maar dat dit aandele het in ʼn Cayman eilande maatskappy wat dan ʼn kontraktuele reg het teenoor Tencent in China. Ek is minder besorg daaroor, want so te sê elke Chinese maatskappy wat genoteer is buite China het so ʼn tipe Cayman eilande entiteit. So dit sal in China se eie belang wees om nie veel te torring aan hierdie tipe entiteite nie, want as hulle dit doen, sal al die aandeelhouers buite China wat Tencent aandeelhouers is – insluitend Naspers – baie skade ly, en heelwaarskynlik sal die res van die wereld dan terug slaan teen Tencent en China, en al die ander belange van Chinese maatskappye in hulle eie lande.

Wat is jou vooruitsigte vir Tencent? Soos jy reeds genoem het, is hulle klaar ʼn vyfhonderd biljoen dollar maatskappy…

Aan die een kant kan mens sê dat bome groei nooit tot in die lug nie, maar aan die ander kant, net omdat ʼn maatskappy groot is beteken nie dat hy nie groter kan word nie. Tencent is ʼn ongelooflike maatskappy, hulle het al in die verlede gewys dat hulle ʼn paar keer kon aanpas. My verwagting is dat hulle sal aanhou met hierdie groei, al is hulle so groot. Hulle is nie lomp nie. Hulle sal aanhou belange neem in ander maatskappye wat hulle vroeg identifiseer – wat self baie waarde kan ontsluit. Tencent het byvoorbeeld nou meer as ʼn duidend maatskappye waarin húlle ʼn balang geneem het, so hulle is deels vanself ʼn beleggingsmaatskappy. Dus is ek eintlik optimisties oor Tencent. Die Tencent aandele is nogal duur op hierdie stadium, terwyl Naspers aandele verhandel teen meer as ʼn vyftig persent diskonto teenoor die balang wat Naspers indirek via Prosus hou in Tencent. So, ek is minder bekommerd oor Naspers se waardasie. Maar in geheel is ek optimisties oor die toekoms van Tencent en minder bekommerd oor die Chinese politiese risiko as wat baie ander aandeelhouers is.

Hoe lyk ʼn dag in jou professionele lewe as ʼn verskansingsfondsbestuurder en watter raad sal jy aan iemand gee wat die bedryf wil betree?

ʼn tipiese dag vir my, my perfekte dag, is ongelukkig deesdae nie meer ʼn tipiese dag nie. Ek het baie administrasiewerk wat ek moet doen. ʼn Perfekte tipiese dag is ʼn dag wat ek sit en net lees……….

Ek wil vir luisteraars net gou sê; soos ek hier sit kyk ek verby Jean Pierre en dit lyk soos ʼn biblioteek, dis al wat ek gaan sê……..

Ja, ek het baie boeke agter my op ʼn boekrak – ek het nog nie almal van hulle gelees nie – dit is nog op my te-doen lys. Maar ek lees baie. Ek lees maatskappye se resultate, ek lees jaarverslae, ek lees onderhoude met bestuurslede, ek lees, lees en lees. Dit is die beste raad wat ek vir enige iemand wat belangstel sal gee.

Tipies, hoeveel ure spandeer jy aan lees per dag?

Ek lees maklik amper voltyds tussen sewe uur die oggend en sesuur die aand – behalwe vir middagete – en dan weer in die aand tussen nege en tien. So, lees, lees en lees. Soos ek sê, ongelukkig is daar deesdae baie admin en ek lees baie eposse wat nie noodwendig so ʼn produktiewe gebruik van my tyd is nie…

Ek gaan jou net so elke twee maande nooi vir die potgooi, dus kan jy bietjie tyd afneem van jou administratiewe werk…

Geen problem nie, dit gee my bietjie tyd om te praat ook! Maar ek sou sê mens moet baie lees om baie kennis op te doen oor maatskappye – jy moet eers kennis hê oor maatskappye – voor jy ʼn opinie kan hê oor hulle kwalitatiewe aspekte.  Die ander deel van my dagtaak is om met finansiële modelle te werk en dan te besluit wat dink ek is die billike waarde van verskillende maatskappye.  Wanneer ek ʼn idee het en ʼn opinie het oor kwalitatiewe aspekte van ʼn maatskappy – gebaseer op wat ek gelees het – en die kwantitatiewe waarde van ʼn maatskappy – gebaseer op die modelle wat ek het – kan ek besluit om ʼn maatskappy se aandele te koop, as ek dink dis goedkoop, of te kortverkoop, as ek dink dit is besonder duur. Dit is dan die werk van ʼn verskansingsfondsbestuurder – om beide aandele te soek wat goedkoop is wat mens kan koop, asook om te soek vir aandele wat baie duur is, om dit te kortverkoop, en daardeur geld te maak vir jou se kliënte.

Ek het al ʼn hele paar van jou artikels gelees, onderhoude gekyk en na geluister; is dit jou ‘quantimental’ metode waarna jy nou verwys? So aan die een kant het jy die leeswerk wat hopelik lei tot kwalitatiewe insigte en aan die ander – kom ons sê – jou Excel modelle of meer ingewikkelde metodes? Is dit korrek?

Presies. Ons noem dit ‘quantimental’, wat ń saamgevoegde woord is tussen ‘quantitative’ en ‘fundamental’ of ‘qualitative’. So, ons kyk kwantitatief en kwalitatief na maatskappye, en ek voel dit is wanneer mens die volle prentjie het om ʼn ingeligte besluit te maak.

Wat is die een of twee boeke wat jy vir mense wat baie belangstel in beleggings sal aanraai om aan te skaf?

Al die briewe wat Warren Buffett elke jaar aan sy Berkshire Hathaway aandeelhouers geskryf het is verniet beskikbaar op die Berkshire Hathaway webblad. Ek sou mense sterk aanraai om al daardie briewe – ek dink dit is meer as vyftig – te lees. Gaan lees gerus, dit is verniet. En in terme van ander boeke is daar ʼn boek van McKinsey; ‘Valuation, measuring and managing the value of companies’, wat ek baie handig vind. Daar is ʼn boek van Dr. Atul Gawande, ‘The Checklist Manifesto’ wat ek baie goed gevind het, en dan hou ek ook van ʼn boek, wat ʼn samevoeging is van dinge wat Charlie Munger gesê het genaamd ‘Poor Charlie’s Almanac’. Ek dink as jy met daardie  boeke en briewe begin sal jy ʼn goeie hupstood kry.

En dit was Jean Pierre Verster van Protea Capital Management. 

(Visited 931 times, 3 visits today)